Die TV- en radioaanbieder Mark Pilgrim het die laaste jare ’n paar ouerskapswenke wyser geword – oor van slaapprobleme tot kleutergedrag – en hy is bereid om te deel

AS DIE pa van twee dogtertjies (Tayla-Jean, links bo, en Alyssa, regs bo) word ek dikwels deur ander pa’s gevra of ek wenke vir nuwe ouers het. Daar is inderdaad ’n paar stukkies raad wat ek wens ander ouers het betyds met my en Nicole gedeel, want dit sou ons lewe heelwat makliker gemaak het. Ek praat nie van  groot goed soos die soort bababed of stootwaentjie wat ’n mens moet koop nie, eerder oor die kleiner dingetjies, soos die beste manier om ’n bottel warm te maak en hoe om babapoef te hanteer.

Hier’s dus ’n gids oor hoe ons dit leer doen het. Dis nie die alfa en die omega nie, en dis ook nie noodwendig die “korrekte” manier van doen nie. Dis eenvoudig wat vir ons gewerk het en wat jou dalk kan help as jy in die nood is!

1 Kry formulebottels tjoeftjaf gereed

bottles

As jou baba ’n bottel soek, soek sy dit NOU! En wie is nou lus om 3 vm. kombuis toe te storm en dit reg te kry? Aan die ander kant kan jy dit nie vooraf maak en heelnag in die bottelverwarmer hou nie, want die melk kan ná ’n uur of wat sleg begin word.

Nicole en ek maak gewoonlik sowat vyf bottels vol ketelwater wat eers gekook en daarna afgekoel word. Kook die ketelwater net een keer, want as jy dieselfde water oor en oor kook verloor die water van sy hidrasievermoë. Ons neem dan die afgekoelde bottels babakamer toe en daar bly hulle die hele dag lank vars. Om dit te doen, moet jy ’n ordentlike bottelverwarmer hê wat ’n bottel tot omtrent 40 grade kan verhit.

Plaas een bottel in die bottelverwarmer (met net water in die bottel, nog nie die poeier nie). Die bottel kan ure lank daar bly sonder dat dit sleg word omdat jy nog nie die formule bygevoeg het nie. Bêre vooraf afgemete hoeveelhede formule langs die bottels.

As jy vinnig ’n bottel nodig het, hoef jy net die poeier in die warm bottel te gooi en die bottel te skud – en jy’s gereed om jou kleinding te voed. Onthou net dat jou baba nie noodwendig alles gaan opdrink nie en as jy die bottel terug in die verwarmer plaas, kan dit nie langer as ’n uur daar bly voor dit begin suur word nie.

As jy klaar is, kan jy net ’n ander waterbottel in die verwarmer plaas en jy’s slaggereed vir die volgende drinksessie – sonder dat jy op die laaste oomblik kombuis toe hoef te hol met ’n skreeuende baba in jou arms.

2 Sorg dat die kamer nie na babapoef ruik nie

bag

Ons het omtrent twee jaar lank die spesiale babapoef-drommetjies met die ronde dromvoerings gebruik. Ons het om drie redes nie daarvan gehou nie.

In die eerste plek, die idee van poef wat tot ’n dag lank reg langs ons baba in die drom lê en gis het ons nie aangestaan nie. Tweedens het dit nie saak gemaak hoeveel geur daar in die dromvoering was nie, die drom het uiteindelik begin sleg ruik. En derdens is die voerings taamlik duur.

Ons het ’n makliker en eenvoudiger oplossing gevind. Die meeste babawinkels en party supermarkte verkoop poefsakkies (dit word Nappy Sacks genoem) in bokse van 100 (soos ’n sneesdoekieboks). Dis baie soos plastiek-inkopiesakke maar baie dunner en party is gegeur. Jy sit net die vuil doek in die sak en gooi dit in die buitenste asdrom. Eureka . . . ’n kamer wat vars ruik!

3 Hoe om doeke ruil minder morsig te maak

gloves

Pa’s sal gek hieroor wees. Apteke verkoop weggooihandskoene van lateks in bokse van 100. Ons het hulle oral in die huis want wanneer jy ’n doek ruil, is die laaste ding wat jy nodig het poef op jou hande en onder jou naels.

Met die handskoene aan kan jy sonder enige vrees baba se boudjies silwerskoon kry. Daarna hou jy die poefdoek in jou een handskoenhand vas en met die ander hand trek jy die handskoenmou oor jou “doekhand” sodat die doek netjies binne-in die handskoen eindig!

4 As baba van dag een af in haar eie kamer slaap

monitors

Dis nie vir almal bedoel nie. Ek is ’n ligte slaper en sal nooit in der ewigheid kan slaap met ’n baba in ons kamer nie, wat nog te sê in ons bed. Van die dag dat hulle van die hospitaal af huis toe gekom het, het ons dogtertjies elke aand in hul eie kamer geslaap met die ligte af.

Hoe het ons dus ’n ogie oor hulle gehou? Maklik – danksy die hulp van tegnologie.

In die eerste plek het jy ’n goeie babakamer-monitor nodig. Ek het twee soorte by die huis, en die Angelcare-reeks werk vir my die beste wat sowel konnektiwiteit betref as wat op die monitor gesien kan word. In die nag wil jy na die monitor kan kyk om seker te maak die babakamer is nie warm of te koud nie (boeke sê die kamer moet 18 °C wees). Dis maklik om die Angelcare-monitor in die donker te lees. Die Angelcare word ook vergesel van ’n sensormatjie wat jy onder jou baba plaas. Die matjie verklik jou baba se asemhaling. Ons het egter opgehou om die matjie te gebruik toe albei ons dogters omtrent 12 weke oud was want dit begin dikwels lui sonder dat daar iets verkeerd is.

camera

Die tweede ding wat jy deesdae kan kry is oë in die slaapkamer. Jy kan óf ’n babamonitor met ’n kamera kry, of as jy wifi tuis het kan jy enige internetkamera koop wat by jou wifi kan inskakel. So kan jy met die hulp van enige webleser na jou baba op jou selfoon of rekenaar kyk. (Gaan na www.wirelesscamera.co.za om goedkoper kameras te bekyk of na www.y-cam.com om dié van ’n hoër gehalte te sien.)

Ons het nege van hierdie kameras in ons huis en kan daarom selfs sien waarmee die kinders besig is wanneer ons nie by die huis is nie. Baie mense is tevrede met net klank in die kamer maar as jy eers ’n kamera het, sal jy wonder hoe jy ooit daarsonder klaargekom het.

5 Wie se beurt is dit om op te staan?

Nicole en ek het altyd ’n aan-aan gespeel. As die babamonitor aan jou kant van die bed is wanneer die baba wakker word, is jy “aan”. As jy klaar is en jy kom terug slaapkamer toe, plaas jy die monitor aan jou maat se kant en sy is dan “aan” as die baba weer wakker word. Geen gestry nie. Eenvoudig.

6 Babasakkie

baby bags

Het jy al ooit gewonder hoe om jou baba in die winter warm te hou sonder om jou te bekommer dat sy die kombers gaan afskop? Tot omtrent 18 maande oud het ons Tayla-Jean in ’n soort slaapsak laat slaap. Dit pas soos ’n truitjie om die bolyf maar is eintlik ’n slaapsak. Daar is baie soorte op die mark, en hierbo is hoe ons s’n lyk. Jy kan dit bestel by http://littlebobabiesonline.com/product/little-bo-baby-sleeping-bag-cotton/).

7 Kry hulle om deur die nag te slaap

pediasure

Toe Tayla-Jean omtrent ’n jaar oud was, het sy steeds in die middel van die nag wakker geword en ’n bottel gevra omdat sy honger was. Dieselfde het met Alyssa gebeur. Elke jong ouer droom van ’n ordentlik nag se slaap . . . hierdie plan kan help! Die skrywer van ’n gewilde bababoek beveel aan dat jy van ’n jaar oud af pleks van ’n gewone aandbottel teen 6 of 7 nm. vir jou baba ’n bottel PediaSure gee. Dis ’n voedingsaanvuller vir kinders van een tot 10 jaar oud en bevat meer koolhidrate, wat hulle langer vol laat voel.

Dié produk is dalk nie vir almal geskik nie, gesels dus eers met jou pediater – maar dit het vir albei ons dogters baie goed gewerk. Teen die tweede aand met PediaSure het albei deurgeslaap.

8 Wit geraas

cd

Wit geraas is nog een van ons klein kulkunsies. Albei meisies het iPods in hul kamer wat dieselfde snit 24 uur van die dag speel. Wit geraas is basies ’n aanhoudende gesis, soos ’n TV wanneer jy dit probeer instel. As dit saggies in die agtergrond gespeel word, doof dit al die ander huisgeluide uit wat ’n kind kan wakker maak. Dis so doeltreffend dat ons altyd ’n waaier in ons eie kamer aan het – selfs in die winter – want dit verskaf ook wit geraas.

Daar is baie uitstekende CD’s met wit geraas op. Die een wat ons gebruik is spesiaal vir babas ontwerp en het ook ’n subtiele hartklop op, wat baie strelend vir babas is. Dis beskikbaar op ’n CD met die title Baby Sense: Womb to World.

9 Beperkte keuses

Hoe ouer Tayla-Jean geword het, hoe meer het sy vir ons “nee” begin sê. Wil jy nou bad? Nee. Klim asseblief nou in die kar? Nee.

’n Kindersielkundige het toe aanbeveel dat ons vir haar beperkte keuses gee wat haar bemagtig (omdat sy ’n keuse maak), maar waardeur ons ook ons sin kry. Byvoorbeeld, pleks daarvan dat ons haar vra of sy gereed is om te bad, vra ons nou: “Wil jy oor een of twee minute bad?” Watter een sy ook al kies, voel sy steeds dit was haar besluit en jy kry haar steeds in die bad.

Die motor-voorbeeld verloop nou so: “Wil jy self in die kar klim of wil jy dat ek jou in die kar tel? Jy kan besluit.” Soms moet ek dit effens aanmoedig met: “As jy nie kies nie, beteken dit pappa moet vir jou kies.”

Nog ’n speletjie wat ek met Tayla-Jean begin speel het, was die stophorlosie-toertjie. Ek gebruik ’n iPad-app wat Minu Timer genoem word. Dit het ’n groot rooi sirkel wat ál meer toemaak namate die tyd verbygaan. Ons stel die horlosie en kyk of ons dinge soos tande borsel gedoen kan kry voor die tyd om is.

10 Kry jou kleuter sover om soet te wees!

starchart

Dis verstommend wat ’n bietjie positiewe aanmoediging kan verrig. Dink net hoe lekker voel ons by die werk as die baas vir ons kom vertel dat ons iets uitstekends gedoen het. Dit werk dieselfde met kinders.

Ons het ’n sterrekaart en Tayla-Jean raak so opgewonde as sy nog ’n ster bykry. Dis net ’n vel gelamineerde papier met omtrent 20 blokke op. As sy buitengewoon soet was, plak ons ’n sterplakkertjie in ’n blok. Elke dag tel ons die sterre om te sien hoeveel sy het (al weet sy presies hoeveel sy op enige gegewe tydstip het!).

11 Hoe om te voorkom dat jou driejarige jou vroegoggend wakker maak

light

Ek het ’n nagliggie in die gang buite Tayla-Jean se kamer opgestel. Met behulp van ’n gewone proptydhouer skakel dit self teen omtrent 6 nm. aan en af teen omtrent 6.30 vm. wanneer die son opkom. My dogter weet dat as sy wakker word en die lig onder die deur sien brand, beteken dit dis nog nag en sy moet in die bed bly. Dit werk baie goed en sy kom maak ons nie meer 5 vm. soggens wakker nie.

Op die kop 6.30 vm. elke oggend kom sy by ons kamer in en maak ons wakker met die woorde: “Die lig is af!”

Ek hoop dié paar wenke gaan dinge vir ma’s en pa’s ’n bietjie makliker maak!

- Mark Pilgrim

* Mark Pilgrim is ’n vryskutradio- en TV-aanbieder en is ’n omroeper op 94.7 Highveld Stereo en 94.5 Kfm. Volg hom by @MarkPilgrimZA. ww.markpilgrim.co.za