Reël 1: Die lewe is nie regverdig nie – raak gewoond daaraan!

Ons sê: In die woorde van die Amerikaanse TV-aanbieder Dennis Wholey: “Om te verwag die wêreld moet jou regverdig behandel omdat jy ’n goeie mens is, is soos om te verwag ’n bul moet jou nie aanval nie omdat jy ’n vegetariër is.” Die lewe is nie regverdig nie, maar dis geen rede om mismoedig te raak nie – maak die meeste van wat ook al na jou kant toe kom. Goed of sleg.

Reël 2: Die wêreld gee nie om oor jou selfbeeld nie. Die wêreld sal verwag dat jy iets bereik voor jy goed voel oor jouself.

Ons sê: Ja, jy moet ander se respek verdien, maar jy moet eers in jouself glo. Jy is die enigste een in beheer van jou selfbeeld. Onthou, maak of jy tops is tot jy tops is!

Reël 3: Jy gaan nie net ná hoërskool R500 000 per jaar verdien nie. Jy sal eers ’n grootbaas met ’n Ferrari wees wanneer jy albei verdien het.

Ons sê: Die uitvinder Thomas Edison het gesê: “Sukses is 10 persent inspirasie en 90 persent sweet.” Die waarheid is, sukses verg harde werk en baie tyd. Hoe harder jy werk, hoe meer goeie geleenthede sal opduik.

Reël 4: As jy dink jou onnie is streng, wag tot jy ’n baas kry.

Ons sê: Dis nie dat alle base gemeen is nie, hulle verwag net baie meer van jou as jou onnies. En anders as onnies, sal hulle maklik van jou ontslae raak as jy nie goed presteer nie.

Reël 5: Jy is nie te goed vir burgers braai nie. Jou ouma en oupa het ’n ander woord vir burgers braai gehad: Hulle het dit “geleentheid” genoem.

Ons sê: ’n Werk is ’n werk! Vat wat jy kan kry, veral noudat die ekonomie so sleg is, en werk hard sodat jy bevorder kan word.

Reël 6: As jy droogmaak, is dit nie jou ouers se skuld nie. Moenie oor jou foute kerm nie, leer uit hulle.

Ons sê: ’n Fout is net ’n tragedie as jy niks daaruit leer nie. Kyk wat gebeur het en hoekom en werk daaraan om dit reg te maak.

Reël 7: Voor jy gebore is, was jou ouers nie so vervelig soos nou nie. Hulle het so geraak van jou rekeninge betaal, jou skoolklere was en luister hoe jy vertel hoe koel jy dink jy is. 

Ons sê: Jou ouers is jou rots. Hulle is altyd daar vir jou, maak nie saak wat nie. Behandel hulle soos die skat wat hulle is.

Reël 8: Jou skool het dalk nie meer wenners en verloorders nie, maar die lewe het. In party skole kan jy nie meer druip nie en het jy soveel kanse as wat jy wil hê om die antwoord reg te kry. Die regte lewe is glad nie so nie.

Ons sê: Sien reël 1!

Reël 9: Die lewe is nie in kwartale verdeel nie. Jy kry nie vier lang vakansies per jaar nie en werkgewers stel nie daarin belang om jou te help om jouself te vind nie.  Doen dit in jou eie tyd.

Ons sê: Dink aan naweke as mini-vakansies en leer om die meeste te maak van elke oomblik wat jy het.

Reël 10: Die TV is nie die regte lewe nie. In die regte lewe moet mense koffierestaurante verlaat en werk toe gaan.

Ons sê: Onthou, die lewe hoef nie nes die goed in flieks te wees om pret te wees nie.

Reël 11: Wees gaaf met bleeksiele. Jy sal waarskynlik eendag vir een werk.

Ons sê: Gee vandag ’n bleeksiel ’n drukkie. En as jy self een is, gryp dit aan – daar lê vir jou goeie tye voor!

BRON: 50 RULES KIDS WON’T LEARN IN SCHOOL DEUR CHARLES SYKES