Die grimeerkunstenaar Jade Tara Leggat gee raad:

  1. Moenie jou puisies met onderlaag probeer toesmeer nie. Wend ’n ligte onderlaag aan en bedek jou puisies met ’n bypassende verbloemer.
  2. Wanneer jy verbloemer oor puisies aanwend, wend altyd ook poeier aan. Dit sal die verbloemer laat set en dit langer laat hou.
  3. Gebruik ’n ligte, vloeibare onderlaag as jy ’n droë vel het en ’n mineraalpoeier- onderlaag as jy ’n baie olierige vel het.
  4. As jy grimering deel, druk altyd die produk op jou hand uit en smeer dit dan aan jou gesig. Dit sal die kans verminder dat jy puisies of koorsblare kry.
  5. Laat jou wenkbroue by ’n salon vorm en onderhou dan die vorm by die huis met ’n haartangetjie.

Paul Hackett, eienaar van Paul Hackett Hairdressing in Boston buite Kaapstad, gee raad vir hare:

  1. Moenie opknapper oorslaan omdat jy olierige hare het nie; smeer dit net aan die punte of gebruik ’n inlos-opknapper aan jou punte.
  2. Lang, gelaagde kuiwe is hoogmode. Steek die langste deel van jou kuif vas vir skool en dra naweke ’n lang kuif.
  3. Moenie stileerprodukte met ’n oliebasis gebruik op die dele van jou hare wat oor jou gesig val nie, want dit kan puisies veroorsaak.
  4. Bind altyd jou hare vas wanneer jy aan sport deelneem.
  5. Vir golwende hare met tekstuur, maak saans twee vlegsels voor jy gaan slaap. Maak die volgende oggend die vlegsels los en trek liggies jou vingers deur jou hare.