Dié pretaktiwiteite leer die kleingoed belangrike vaardighede sonder dat hulle dit eens agterkom! 1 LUISTERSPELETJIE Neem ’n klomp verskillende voorwerpe. Laat jou kinds daarna kyk. Dan moet hy sy oë toemaak terwyl jy ’n geluid met een van die voorwerpe maak. Laat hom raai watter voorwerp dit is. Jy kan byvoorbeeld jou vingers oor ’n kam trek, of ’n glas liggies tik, of ’n pot met ’n lepel slaan. Leerbonus Die speletjie verbeter luistervaardighede, wat die eerste stap na goeie kommunikasievaardighede is. 2 BINGO MET FOTO’S Neem nege familiefoto’s en rangskik dit in rye van drie. Gee jou kleuters dan nege speelkaarte elk – dis hul bingo-skyfies. As jy uitroep “Sussie!” of “Oupa!” moet hulle die foto met die kaart toemaak. Die wenner is die een wie se ry eerste vol is. Leerbonus Dié speletjie oefen jou kinders se geheue en leer hulle sommer ook wie almal in die uitgebreide familie is. 3 ONTHOUSPELETJIE Laat die kinders in ’n kring sit. Die eerste speler sê: “In my piekniekmandjie het ek ’n vurk gepak.” Die volgende kind vervolg met: “In my piekniekmandjie het ek ’n vurk en ’n mes gepak.” Die volgende speler herhaal alles wat die spelers voor haar gesê het en voeg haar eie item by, en so gaan dit aan tot almal lekker deurmekaar is en glad nie meer kan onthou wat alles in die mandjie is nie. Leerbonus Die speletjie moedig ’n vinnige verstand, kreatiwiteit en woordeskat aan. Die kleinspan moet aandag gee aan wat die ander sê en terselfdertyd aan hul eie item dink. As die voor die hand liggende items klaar genoem is, moet hulle kreatief wees en aan ander moontlikhede dink. 4 BALLONSPELETJIE Gee vir elke kind twee ballonne. Sodra jy roep “begin!”, moet hulle saam-saam al die ballonne vir ’n vasgestelde tyd in die lug hou – spring weg met 30 sekondes. As hulle gekonfyt is, kan hulle die ballonne met hul neus of net een vinger in die lug hou. LEERBONUS Dié speletjie help koördinasie en balans ontwikkel. Veiligheid KOM eerste Moenie kinders onder drie dié speletjie laat speel nie; ballonne hou ’n verstikkingsgevaar in speel5 DAARAAN HET EK NOOIT GEDINK NIE! Maak ’n paar goed bymekaar soos ’n pot, teelepel en koppie. Gee elke speler ’n minuut om soveel goed moontlik uit te dink wat hulle met daardie ding kan doen. ’n Emmer kan byvoorbeeld ’n stoel wees, ’n bêreboks, ’n vullisblik of ’n trom. Leerbonus Jou kinders leer kreatiwiteit en probleemoplossing. 6 BINNENSHUISE NETBAL Hou al die sokkies eenkant nadat jy die wasgoed laat droog word het. Wys jou kind hoe om die sokkies in pare te sorteer en dan in balletjies op te rol. Pak nou ’n paar skoendose ’n entjie weg en skryf ’n gesinslid se naam op elkeen. Jou kind moet dan die regte sokkies in die regte skoendoos gooi. Leerbonus Jou kind raak gewoond daaraan om met huistakies te help. 7 VOELSPELETJIE Sny met ’n messie ’n gat in die kant van ’n skoendoos. Steek iets in die doos weg, sit die deksel op en laat jou kinders hul hand deur die gat steek en raai wat binne-in is. Dit kan iets alledaags wees, soos ’n kam, of lekker grillerig, soos gaar pasta. Of maak ’n paar bakkies vol goed, blinddoek jou kind en laat haar daardeur voel en raai wat dit is: druiwekorrels, staalwol, droë boontjies of meel? Leerbonus Dit verbeter denkvaardighede, woordeskat en konsentrasie. Dit stimuleer kinders se sintuie, wat help om nuwe breinpaadjies te vorm. Dié speletjie is ook uitstekend vir kinders met sensoriese probleme soos tasdefensiwiteit. 8 KEGEL-KASKENADES Pak sowat ses leë klein waterbottels op ’n ry – dis jou kegels. Laat die kleinspan aan die ander kant van die vertrek staan en met ’n rubberbal die kegels omrol. As die kegels te maklik omval, kan jy water of sand daarin gooi om dit swaarder te maak. Leerbonus Dié speletjie leer jou kinders beplanning en bevorder motoriese ontwikkeling. 9 SPEELGOEDRUIL-KUIER Nooi maatjies om speelgoed te bring wat hulle nie meer wil hê nie en wat nog in ’n goeie toestand is. Stal al die speelgoed uit en laat die kinders dan nommers trek om te kyk wie eerste ’n “nuwe” speelding kan kies. LEERBONUS Dis ’n speletjie wat kinders begin gewoond maak aan die idee van deel. 10 DISKOJOL Wie gee om of disko nou in of uit die mode is, dié speletjie bly steeds groot pret, veral in die aand. Trek die gordyne toe, verdoof die ligte of skakel dit heeltemal af, stop ’n flits in elke kind se hand en gee elkeen ’n klein serpie om rond te swaai. Sit nou lekker dansmusiek op (soos Snotkop se Ek Hou van Jol of Abba se Dancing Queen) en kyk hoe die kleinspan dit flou kap. LEERBONUS Al die pret ontwikkel kinders se groot motoriese vaardighede en sin vir musiek en ritme.