“Lag is die beste medisyne” is ’n ou spreekwoord en nou lyk dit asof dit tog die waarheid is. Volgens wetenskaplikes verbrand ’n goeie giggelbui net soveel kilojoules soos ’n stywe stappie – dit wil sê tot 500 per uur.

Dit is darem nou ook nie nodig om soos ’n malle vir niks te loop en lag nie, want selfs wanneer jy jou verkneukel, kan jy tot 85 kilojoules per uur verbrand.

As dit nie genoeg is om jou aan te spoor om vrolik te raak nie, wat van hierdie een: Lag oefen ook die skuins spiere, die groep maagspiere wat nodig is vir die gesogte blokkiesmaag; trouens, daar is bevind dat ’n ordentlike lagbui hulle selfs meer aktiveer as ’n stel maagspieroefeninge.

Lees ook: Selfhelpwenke vir stres

Jy moet net iets werklik snaaks soek om die meeste nut uit jou genot te kan haal. Slegs ’n onbeheersde lagbui sal 500 kilojoules per uur verbrand. Dit is die soort wat jou uitasem van al die lag op die vloer laat rol.

’n Hartlike gelag sal ongeveer 420 kilojoules per uur verbrand – en dit is ook nie te versmaai nie. Boonop verbeter ’n gegiggel die vloei van bloed in die liggaam en dit beteken dat dit amper as ’n kardiovaskulêre oefensessie dien.

Ons het die bevindings te danke aan die komediant dr. Helen Pilcher, wat ’n Ph.D. in biologie het. Die komedie-televisiekanaal Dave het haar gevra om ’n studie te maak en sy het beweer as jy saans komiese programme kyk, kan dit jou algehele gesondheid verbeter.

Lees ook: Nege uit 10 kleuters is nie aktief genoeg nie

“Hierdie verslag wek die vreugdevolle moontlikheid dat, deur na komiese programme te kyk, jy jou maagspiere kan versterk deur die skuins inwendige spiere meer doeltreffend te oefen as opsitte,” het sy verduidelik.

“My maagspiere het beslis sterker gevoel ná ure voor die televisie waar ek na komedies gekyk het.”

Maar Helen het bygevoeg dis belangrik dat jy ook versigtig moet wees ten opsigte van jou ander gewoontes; jy sal dus net voordeel trek uit jou lagsessies as jy nie pasteitjies verorber terwyl jy kyk na die skreeusnaakse programme nie.

© Cover Media