Volrond en ferm – soos Nicki Minaj s’n in haar musiekvideo Anaconda of Kim Kardashian s’n op die voorblad van die tydskrif Paper.

Selfs Jennifer Lopez en Iggy Azalea het die tonge laat klap met hul gewaagde musiekvideo Booty. Maar wat as jou boude nie naastenby by hulle s’n kan kers vashou nie? Boud-inplantings het een van die gesogste kosmetiese operasies geword. Inspuitings om boude groter te maak, waar vet van een deel van die lyf na die boude oorgeplant word, is ook aan die toeneem.

Maar daar is ook ’n ander manier om ferm boudjies te kry. Dis nie ’n kitsoplossing nie, maar oefening is die beste raad om jou kurwes vorm te gee. Ons kyk na drie oefeninge vir boude.

Hurkoefeninge

As jy net een oefening doen, sorg dat dit hierdie een is. Dis die beste manier om ferm boudjies te kry, en hoe erger dit brand, hoe beter.

Staan met jou bene sowat heupwydte uitmekaar. Buig jou knieë en beweeg jou boude agtertoe en af, asof jy op ’n stoel gaan sit. Hou jou bors gelig en jou ruggraat reguit en maak seker al jou gewig gaan deur jou hakke.

Probeer om so laag moontlik af te beweeg – jy wil ideaal gesproke jou bobene parallel met die vloer hê. Beweeg terug in ’n staande posisie.

Om dinge ’n bietjie skop te gee, draai jou voete na buite (dan oefen jy ook die binneste dye), of probeer om met jou bene teen mekaar te hurk, en wanneer jy opkom, beweeg jou regterbeen met een tree buitentoe en hurk weer. Trek weer jou regterbeen in terwyl jy hurk, en doen dan dieselfde met jou linkerbeen.

As jy dit onder die knie het, probeer ’n 30 dag lange hurkoefening-uitdaging waar jy elke dag die hoeveelheid hurke vermeer. Daar is roosters op verskeie fiksheidswebtuistes beskikbaar – hoe laag kan jy daal?

Vorentoe tree en afsak

Die afrigter Jennifer Pattee sê aan popsugar.com dis een van die min oefeninge waar jy ’n spesifieke area kan oefen – die boude.

Staan met jou voete teen mekaar en gewigte in jou hande. Tree vorentoe met jou regterbeen terwyl jy jou handgewigte krul. Laat sak jou heupe tot jou knieë albei teen hoeke van 90 grade is, met jou agterste een wat amper aan die vloer raak. Keer dan terug na ’n staanposisie en herhaal met die ander been.

Skuins-afsakke

Dié oefeninge teiken die spiere aan die kante van jou bekken, maar jou boude kry ook goeie oefening. Begin met jou voete teen mekaar, neem ’n wye tree na die kant en laat sak jou lyf sodat jy aan die vloer raak. Hou jou rug reguit. Keer terug na ’n staanposisie, en herhaal die oefening in die ander rigting.

© Cover Media