Al hierdie kwessies kan egter iets van die verlede wees noudat wetenskaplikes die “meganisme” gevind het wat die liggaam se horlosie aan die tik hou.

Die molekulêre skakelaar reguleer die liggaam se biologiese horlosie en sorg dat dit tyd hou. Wetenskaplikes in Singapoer glo hul ontdekking kan hulle help om nuwe behandelings te ontwikkel vir vlugvoosheid, en ook vir slapeloosheid wat deur skofwerk en metaboliese ongesteldhede veroorsaak word.

“Hierdie studie werp lig op een van die grootste raaisels van die biologiese horlosie die afgelope 60 jaar en dit het gehelp om van die basiese meganismes wat die tydreëling van die horlosie beheer, duidelik te maak,” het die medeleier van die studiegroep, prof. David Virshup van die Duke-NUS-nagraadse mediese skool in Singapoer, gesê.

Die 24-uur-siklus van die biologiese horlosie is normaalweg met die sonsopkoms en -ondergang gesinchroniseer ten einde te verseker dat ons snags slaap.

Volgens die wetenskaplikes is een van die redes waarom dit moontlik is, die feit dat die liggaam se horlosie relatief ongevoelig is vir klein temperatuurskommelings. As dit nie so was nie, sou die liggaam se horlosie te vinnig geloop het wanneer dit warm is en te stadig wanneer dit koud is.

“Die gebruik van biochemiese analise en wiskundige modellering het ons in staat gestel om aan te toon hoe die kern van die biologiese horlosie by ’n 24-uur-siklus hou, ten spyte van veranderings in die temperatuur en metaboliese veranderings,” het prof. Vishup bygevoeg by die bevindings wat in die tydskrif Molecular Cell gepubliseer is. “Ons studie verskaf ook ’n wiskundige model wat die gedrag van die horlosie in verskillende toestande voorspel, dus het ons ’n goeie denkbeeld van die tydstip waarop elke soort medikasie die gunstigste uitwerking sal hê tydens die bevegting van vlugvoosheid en skofwerk.”

Die span het gevind die stabiliteit van ’n proteïen genaamd PER2, wat lewensnoodsaaklik is by die bepaling van die tydreëling van ons biologiese horlosies, is afhanklik van ’n proses met die naam “fosforilasie” wat as die skakelaar dien.

Navorsers en wetenskaplikes kry hierdeur ’n potensiële medikasiedoelwit om die gedrag van die biologiese horlosie te beïnvloed en sodoende te sorg dat vlugvoosheid eindelik iets van die verlede word.

© Cover Media