’n Span navorsers by die Universiteit van Leicester het ontdek gemorskos, sowel as skynbaar gesonde verwerkte opsies (byvoorbeeld klaar bereide groente en pastasouse), molekules bevat wat bekendstaan as patogeen-geassosieerde molekulêre patrone (PGMP).

Daar word aangeneem die molekules groei tydens die vervaardigings- en verkoelingsproses voor die kos na die verspreiders vervoer word.

’n Filetskyf bevat byvoorbeeld min PGMP’s, terwyl maalvleis baie bevat. Desgelyks: ’n Heel ui bevat min PGMP’s, maar ’n pak vooraf bereide, gekapte uie bevat baie.

Die hoofnavorser, dr. Clett Erridge, en sy span het ’n groep vrywilligers gemonitor wat vir ’n week ’n PAMP-arm-dieet gevolg het. Ná die week was hul witbloedtelling laer, hul vlak van slegte cholesterol was laer en hulle het gemiddeld 600 g ligter geweeg.

Witbloedselle beskerm die liggaam teen siektes.

Lees ook: So lyk ’n McDonald’s Happy Meal glo ná SES jaar

As die witbloedtelling hoog is, kan dit dui op gesondheidsprobleme soos ’n infeksie, allergie, inflammasie, allergie of ander kwessie.

Solank die deelnemers net kosse met min PGMP’s geëet het, was hul witbloedtelling 11 persent laer.

Een van die belangrikste bevindings was dat die vrywilligers se vlakke van “slegte” laedigtheid-lipoproteïen-cholesterol (LDL) 18 persent laer was.

As die groep voortgegaan het met die spesiale dieet, sou die verlaging in hul cholesterolvlakke beteken die risiko vir kroonslagsaarsiektes verlaag met meer as 40 persent.

In die studieweek het die deelnemers ook gemiddeld 1,5 cm om hul middellyf verloor – en dit beteken hul risiko vir tipe 2-diabetes het met meer as 15 persent verlaag.

Toe die navorsers die vrywilligers ’n PGMP-ryke dieet laat volg, was daar ’n algehele ommekeer in hierdie resultate – wat jou net wys hoe gevaarlik hierdie molekules is.

Lees ook: Ooreet naweke net so sleg soos gemorskos-dieet

Clett en sy span hoop voedselvervaardigers sal voortaan die PGMP-vlakke in hul vervaardigingsprosesse deurgaans toets en sodoende sal uitvind in watter stadium die molekules die kos binnedring.

Verwydering van die PGMP’s uit die kos sal help om dit gesonder te maak sonder dat die smaak of tekstuur, sowel as die koste of bestanddele van die voorbereiding van die kos, nadelig beïnvloed sou word.

Die studie is in die tydskrif Nutrition, Metabolism and Cardiovascular Diseases gepubliseer.

© Cover Media