Volgens ’n span by die marknavorsingsmaatskappy Mintel voel tot een uit elke drie werkers so gespanne oor hul werk dat hulle kalorieryke kossoorte soos oliebolle en koekies verorber om die stres teen te werk.

Dit is veral erg in die ouderdomsgroep 35 tot 44 jaar, waar een uit elke vier mense so bekommerd is oor spertye dat hulle vetterige en suikerbelaaide snoeperye bydam.

In die studie is ook bevind mense is geneig om kos as ’n kitsoplossing vir stres te beskou, dus eet hulle eerder as oefen of om oor hul probleme te praat.

Die kersie op die koek is, vier uit 10 pa’s en een uit vier ma’s plaas hul loopbaan bo hul gesin. Dis vermoedelik deels te wyte aan bekommernis oor geld en die begeerte om in hul kinders se behoeftes te voorsien.

Lees ook: Vroue wat min slaap is meer geneig tot Tipe 2-diabetes

“Die belangrikste ding wat werkende Britte die afgelope 12 maande gedoen het, was om trooskos te eet.

Drie en dertig persent werkers het erken hulle het dit gedoen, gevolg deur 30 persent wat hul toevlug tot alkohol geneem het en een uit elke sewe – 15 persent – het gerook of dwelms gebruik,” het die span van Mintel verduidelik.

Stres blyk ’n groot probleem te wees; 70 persent van die deelnemers aan die studie het erken hulle ly daaraan. Tog het 29 persent van die deelnemers gesê oefening het hulle stres help oorkom.

Ander het dit met hul vriende en familie bespreek, terwyl 7 persent professionele hulp gesoek het.

Die aantal ure wat mense werk, dra waarskynlik by tot die probleem, want oor die jare het werkure ál langer geword.

Feitlik die helfte van die deelnemers het gesê hulle lees en beantwoord werk-e-posse wanneer hulle nie op kantoor is nie. Dit beteken hulle kry nie tyd om af te skakel nie en werk ook meer ure as wat van hulle verwag word.

Lees ook: Selfhelpwenke vir stres

Een uit 10 mense verlaat ook nie eens die kantoor vir middagete nie en twee uit vyf doen dit ’n paar keer per week.

“Stygende werkdruk het ’n uitwerking op mense se welsyn,” het Ina Miskavets, Mintel se senior analiseerder van die lewenstyl van verbruikers, gewaarsku.

“Dit gee maatskappye egter die geleentheid om met kreatiewe maniere vorendag te kom om werknemers aan te moedig om ’n gesonder balans te handhaaf. Dit kan lei tot beter personeelretensie en lojaliteit.”

Van die voorstelle sluit in werkers moet verhoed word om ná ure e-pos oop te maak of dat maatskappye vir hul werknemers goedkoper lidmaatskap by ’n gimnasium moet bewerkstellig.

© Cover Media