Een van die gewildste pynstillers ter wêreld is in die pekel nadat die advertensiekommissie in Brittanje beslis het dit mag nie bemark word as ’n middel wat pyn in bepaalde dele van die liggaam teiken nie.

Nurofen bemark ’n reeks produkte wat glo spesifiek ontwerp is vir onder meer rugpyn, gewrigspyn, migraines en menstruele krampe, maar die hof het besluit van hierdie bemarking is misleidend omdat pynstillers nie die bron van ’n mens se pyn kan uitsoek nie.

Die klag het gekom ná ’n Britse TV-advertensie waarin die maatskappy se rug- en gewrigspynstillers bemark word. In die advertensie sien kykers glo hoe die middel deur ’n vrou se liggaam beweeg om haar rugpyn te takel.

“Kykers sal waarskynlik aflei dat die produk ’n spesiale meganisme of bestanddeel het wat dit doeltreffend maak spesifiek vir gewrigs- en rugpyn,” het die advertensiekommissie gesê.

“Die produk word deur die maag geabsorbeer en via die bloedstroom na pynbronne gestuur. Daar is geen meganisme waarmee die produk aktief die pynbron kan uitsoek nie.”

Tog sê Nurofen Suid-Afrika in ’n verklaring aan Huisgenoot dat hierdie beslissing geen betrekking het op Nurofen se produkte in Suid-Afrika nie, omdat die middel vir rug- en gewrigspyn nie in Suid-Afrika te koop is nie.

“Hierdie saak hou net met Brittanje verband en is nie van toepassing op Suid-Afrika of enige ander land nie.

“Nie dié produk of die advertensie hier ter sprake is in Suid-Afrika te koop of gewys nie.”

Dié beslissing kan ’n groot invloed hê op die manier waarop pynstillers bemark word.

“Nurofen is teleurgesteld in die advertensiekommissie se besluit om die klagte teen ons TV-advertensie van ons Joint & Back Relief Pain-produk in Brittanje te bekragtig.

“Al die bewerings wat in ons TV-advertensie in Brittanje gemaak word, word deur deeglike bewyse gesteun en deur die nodige onafhanklike organisasies goedgekeur,” lui die verklaring.

Bronne: theguardian.com, www.asa.org.uk, iol.co.za