Of jou motorsleutels wat voortdurend soek is omdat jy nie kan onthou waar jy dit neergesit het nie?

Daar is seker ’n handjie vol mense wat nog nooit so iets ervaar het nie. Of dalk net nie kan onthou dat hulle dit oorgekom het nie.

Dan is daar ook die komplikasie van lang- en korttermyngeheue. Terwyl jou langtermyngeheue vir goed is wat jy nie onmiddellik toegang toe nodig het nie, is jou korttermyngeheue die een op wie se nommer jy onmiddellik moet druk.

Die deursnee-korttermyngeheue kan met gemiddeld sewe brokkies inligting op ’n slag deel. Meer as dit sal iewers verlore raak.

Party blameer soms laggend “die ouderdom” daarvoor, maar dit is ook iets wat jongmense kan oorkom.

Is daar iets wat jy kan doen om jou geheue te verbeter? Beslis.

Net soos wanneer jy ’n stewige huis wil bou, moet die aanvoorwerk en die fondasie goed gelê word. Anders gaan ’n paar krake dalk opduik.

Deel van jou “fondasie” begin met goeie eetgewoontes, verminderde spanning en goeie nagrus. Dan volg fokus.

1. Fokus daarop

Daar is soveel verskillende ysters in die vuur dat fokus baie gou “uit fokus” kan raak. Jy gryp hier en daar en voor jy weet wat, weet jy nie meer wat jy eintlik wou doen of sê nie. Dis belangrik om van die ysters minder te maak wanneer jy iets moet probeer onthou.

via GIPHY

2. Raak daaraan, ruik daaraan, hoor dit, sien dit

Al jou sintuie is belangrik. Waaraan laat die reuk van varsgebakte pannekoek met kaneelsuiker jou dink? Deel van die verbetering van jou geheue is om assosiasies met voorwerpe en mense te bou. Sukkel jy om name te onthou? Wel, skud die persoon se hand, kyk hom in die oë en herhaal sy naam wanneer julle aan mekaar voorgestel word. As die mens boonop lekker ruik, gebruik jy vier van jou sintuie om een volledige prentjie te bou.

3. Herhaal en herhaal weer

Vir sommige mense werk dit beter om goed te herhaal. Maar moenie dit oor ’n kort tydperk in jou geheue probeer indruk nie. Spasieer die tyd tussen herhalings en die resultate kan jou verbaas.

4. Groepeer inligting

Kry telefoonnommers jou onder? Groepeer dit. Onthou die streekkode, byvoorbeeld 011 vir Gauteng, dan die volgende drie syfers, gevolg deur die laaste vier. So ontwikkel die nommers ’n bepaalde ritme -- en net soos met musiek, kan dit jou langer bybly.

5. Leer op die manier wat vir jou werk

Onthou jy goed beter as jy dit neerskryf of dalk selfs jou eie manier van snelskrif inspan? As dit vir jou werk, werk dit. Sommige mense onthou beter as hulle assosiasies met voorwerpe skep, terwyl daar ook diegene is wat met klankopnames hul geheue beter kan stimuleer.

6. Liggaamlike fiksheid bevorder ook breinfiksheid

In 2010 is ’n studie met ape gedoen. Daar is bevind gereelde oefening het nie net bloedvloei na die brein verbeter nie, maar die ape wat aan die studie onderwerp was, kon nuwe take twee keer vinniger as hul eweknieë bemeester.

7. Speeltyd vir jou brein

Jy geniet speeltyd, hoekom nie jou brein ook nie? Veral as jy voel jou brein word nie genoeg gestimuleer nie. Lumocity.com is een van die aanlyn bestemmings vir breinspeletjies. Hoewel daar teenstrydigheid bestaan of dit enigsins jou geheue help verbeter, is dit minstens een manier om van die daaglikse harwar af te skakel en sowat 20 minute lank net op een enkele aspek te fokus.

8. Leer iets nuuts

Maak seker dat dit wat jy wil aanleer, belangrik is vir jou en minstens interessant genoeg is om jou aandag te behou. Ook dat dit iets is waarna jy uitsien om te doen -- van tuin- tot musiek maak, handvaardighede aan te leer of selfs net die breinaalde nader te trek. Dit moet iets wees wat jy geniet om te doen, wat jou laat ontspan en werklik bevrediging verskaf.

Bronne: psychcentral.com, mercola.com, npr.org