Een van die bekendste is olyfolie, ’n staatmaker vir dié wat ’n Mediterreense dieet volg.

Ekstrasuiwer olyfolie is natuurlik en propvol anti-oksidante en noodsaaklike vetsure. Navorsers het bevind dit kan daarom vir ’n reeks siektes help: dit beskerm teen kardiovaskulêre siektes en sekere kankersoorte, beskerm teen veroudering en kan met diabetes en hartsiektes help.

Is jy nou oortuig jy moet ’n bottel aanskaf? Dis goed, maar daar is eers ’n paar oorwegings wat jy moet maak.

Baie mense koop ligte olyfolie omdat hulle aanvaar dit bevat minder kalorieë. Dit is nie die geval nie; dit beteken eintlik die kleur en geur is ligter. Moet dus nie dié soort koop as jy nie regtig daarvan hou nie.

Dit is ook onwaar dat jy nie met ekstrasuiwer olyfolie moet kook nie. Health.com sê baie mense gebruik dit net in slaaisouse omdat hulle bekommerd is oor die olie se lae rookpunt. Dit kan wel steeds oor medium hitte gebruik word.

Nog ’n probleem is waar mense hul olyfolie bêre. Dit is dalk maklik om dit sommer langs die stoof te hou, maar die hitte en lig sal dit vinnig laat bederf. Die beste is om dit in die kas te hou. Is jy onseker oor jou olie nog reg is? Dit behoort soos olywe te ruik; as die reuk dus verander, moet jy dit maar weggooi. Dink ook aan hoe lank jy dit al het; dit behoort sowat ses maande te hou. Ná dit moet jy maar ’n ander bottel koop.

© Cover Media