RUGBYSPELERS raak groter, sterker en vinniger, die mededinging strawwer en die botsings hewiger . . . en nie net op topvlak nie. Soos ons in ons gedrukte uitgawe berig (Kollig op beserings, 30 Januarie), moet alle belanghebbers saamstaan om die gepaardgaande risiko’s van harsingskudding hok te slaan.

Spelers is gemiddeld meer as 7 kg swaarder as skaars 20 jaar gelede en op elite-vlak, byvoorbeeld, is die hewigheid van die botsings al met motorongelukke s’n vergelyk.

Suid-Afrika is wel proaktief in die bekamping van harsingskudding in rugby, met BokSmart, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se nasionale rugbyveiligheidsprogram, aan die spits. Tog kan van afrigters, onnies en ouers tot spelers self nog meer doen om potensieel tragiese gevolge te keer.

Ons het steek kers op by kenners:

Harsingskudding kan gevaarlik wees as dit nie behoorlik bestuur word nie, benadruk dr. Wayne Viljoen, ’n senior bestuur van BokSmart. “Ná ’n harsingskudding-voorval is ’n speler se brein sensitiewer en vatbaarder vir nog besering. Spelers is dan die kwesbaarste, sou hul brein nog ’n hou kry.

“En in dié tyd moet spelers behoorlik behandel en bestuur word. Eers wanneer hulle volkome sonder simptome is, moet hulle rugby se voorgeskrewe protokol vir geleidelike terugkeer volg.

“By jonger spelers, skolespelers, moet dié bestuur- en stapsgewyse terugkeer selfs konserwatiewer en sensitiewer hanteer word.”

Die Internasionale Rugbyraad (IRR) het juis einde verlede jaar aangepaste, konserwatiewer terugkeer-protokol vir jeugrugby uitgereik, sê Wayne.

Harsingskudding is, volgens die IRR se jongste riglyne daaroor, ’n breinbesering weens kragte wat regstreeks óf onregstreeks op die kop uitgeoefen word. Die resultaat is gewoonlik ’n kortstondige verswakking in breinfunksie. In minder as 15 persent van harsingskuddingsgevalle verloor spelers hul bewussyn; dis gewis nie ’n vereiste vir ’n harsingskuddingsdiagnose nie.

Die IRR sê eweneens kinders en adolessente (jonger as 19) met harsingskudding moet meer konserwatief bestuur word: daar’s bewyse dat kinders kwesbaarder is vir harsingskudding, stadiger daarvan herstel en ernstiger geheue- en inligtingsverwerkingsprobleme ervaar. “Hulle is ook vatbaarder vir skaars en gevaarlike neurologiese komplikasies, insluitend sterfte weens tweede-impak-sindroom.”

Van BokSmart se slypskole fokus daarop dat onnodige of gevaarlike kontaksituasies allereers vermy moet word. Van hul hoofpunte is:

  • Hardloop ruimtes binne, nie in gesigte vas nie: dis slim rugby
  • Kop en gesig omhoog en oë oop in kontaksituasies
  • Moenie dan die kop laat sak nie en hou die nek stewig
  • Plaas jou kop agter die ou wat jy lak, nie voor hom nie
  • Dink aan jou nek wanneer jy die gras tref
  • Laat die speler uitsit wanneer jy enigsins twyfel (vir skeidsregters, wedstryd-dokters, afrigters)

Tekens van moontlike harsingskudding:

  • bewusteloosheid, ongeag hoe lank
  • onvas op voete, balans-, koördinasie-probleme
  • rukkings
  • geheueverlies
  • verwardheid
  • ’n speler snap nie speltekens of beplande bewegings nie
  • klagtes oor hoofpyne, naarheid, duiseligheid, sensitiwiteit vir lig of geraas, uitermatige uitputting, lomerigheid, sigprobleme, “drukking in die kop” of beneweldheid, gevoelloosheid of “naalde en spelde” in die lyf

Voorbeelde van vrae om spelers vir harsingskudding te toets

As spelers onseker is oor enige van dié soort vrae, moet hulle ook van die veld afgehaal word:

  • Op watter veld is ons?
  • Teen wie speel ons?
  • In watter wedstrydhelfte is ons?
  • Wie het laaste punte aangeteken?
  • Teen wie het ons verlede week gespeel?
  • Het ons verlede week gewen?

Aan vyf- tot 12-jariges:

  • Waar is ons nou?
  • Is dit voor of ná middagete?
  • Watter klas het jy laaste gehad?
  • Wat is jou onderwyser se naam?

Haas hom hospitaal toe by dié tekens van ernstige of verergerende kopbeserings:

  • Hoofpyne wat vererger
  • Toenemende lomerigheid
  • Herken nie mense of plekke
  • Toenemende verwardheid
  • Herhaaldelike braking
  • Rukkings, onduidelike spraak
  • Vergroting van een of albei pupille
  • Ongewone gedragsveranderinge
  • Kwaai nekpyn
  • Swakheid of gevoelloosheid in ledemate

Clint Redhead, Saru se senior bestuurder: medies, sê ’n grondbeginsel van harsingskuddingsbestuur is rus, met betrekking tot liggaamlike oefening sowel as dinkwerk (aktiwiteite wat volgehoue konsentrasie verg). Ouers moet help toesien dat dit gebeur. Volgens die IRR-riglyne moet daar so gerus word tot die speler geen simptome meer ervaar nie, sonder medikasie wat simptome mag verbloem. Hoe jonger spelers, hoe langer die IRR se voorgeskrewe minimum rusperiode voor hulle met die geleidelike terugkeer mag begin (mits hulle geen simptome het nie). Vir o.6- tot o.15-spelers is die minimum rusperiode byvoorbeeld twee weke, vir o.16- tot o.19-spelers’n week en vir volwassenes 24 uur. Daarna begin spelers met die terugkeer wanneer hulle vanaf ligte aërobiese oefening tot rugbyspesifieke oefeninge tot geen kontak- en eindelik vollekontak-rugbyoefensessies vorder.

Die besluit of ’n speler met die terugkeer kan begin, berus hoofsaaklik by die mediese dokter in wie se sorg hy behoort te wees, benadruk Clint. Maar ouers en afrigters moet ook help verseker dat al die prosesse rakende harsingskudding gevolg word.

Die IRR-riglyne vra pertinent dat spelers nooit simptome moet ignoreer en weer speel voor hulle volkome van harsingskudding herstel het nie. Die risiko’s hiervan sluit in:

  • ’n tweede harsingskuddingsterugslag
  • verhoogde risiko van ander beserings weens verswakte besluitnemingsvermoë en reaksietyd
  • ernstige besering of die dood weens ’n breinbesering
  • ’n potensiële, verhoogde risiko vir die ontwikkeling van neurologiese agteruitgang op lang termyn.

“Rugby se benadering is dat enige speler wat  binne ’n jaar ’n tweede keer harsingskudding opdoen, ’n geskiedenis van veelvuldige harsingskuddingsgevalle het of ongewoon stadig herstel, deur medici met ondervinding van sport-harsingskudding beoordeel en behandel moet word,” sê Clint. En verkieslik dan volgens ’n “multidissiplinêre benadering”, wanneer verskillende kundiges betrek word. Intussen word alle SA rugbyafrigters en -skeidsregters verplig om Saru en BokSmart se rugbyveiligheidskursusse te voltooi, sê Wayne. Ouers kan help monitor dat dié wat met hul kinders werk, wel so gekwalifiseer is. BokSmart het, as ’n “eerste verdedigingslinie”, ook ’n voorseisoen-vraelys ontwikkel om afrigters spelers wat moontlik ’n hoër risiko as ander loop vroegtydig te help uitken, sê Wayne. Dié gebruikersvriendelike vraelys dek onder meer spelers se geskiedenis van nek- en kopbeserings en harsingskudding. “As daar enige ‘ja-antwoorde’ is, moet die afrigter toesien dat ’n toepaslike klinikus eers die speler goedkeuring vir nog rugby-deelname gee.” Dié hulpmiddele en omvattende harsingskuddingsinligting is vir enigiemand by boksmart.com beskikbaar.

“Elkeen wat regstreeks of onregstreeks by rugby betrokke is, moet hulself oor harsingskudding inlig.” Onderwysers kan byvoorbeeld bepaal of ’n speler wat van harsingskudding herstel, weer so goed in die klas vaar soos voorheen.

Gerekenariseerde harsingskuddingstoetse

Gerekenariseerde neurokognitiewe toetse kan help bepaal of iemand harsingskudding het.

ImPACT is een van dié gerekenariseerde breinfunksietoetse wat wyd in Suid-Afrika gebruik word, sê prof. Ann Edwards, ’n neurosielkundige en harsingskuddingsnavorser aan Rhodes-universiteit in Grahamstad.

Dit duur 20 minute tot ’n halfuur 30 en die resultate word gewoonlik deur ’n neuro-sielkundige ontleed wat hulle met die speler se ‘grondslag-telling'  vergelyk (sy normale voorseisoen-breinfunksie-profiel) en aan sy mediese dokter terugvoer gee.

“Opvallende (liggaamlike) harsingskuddingsimptome klaar dikwels op voor kognitiewe funksie normaliseer, of spelers rapporteer nie self sulke simptome nie omdat hulle gou weer wil speel,” sê Ann oor neuro-kognitiewe toetse se voordeel.

CogState Sport is nog ’n breinfunksietoets wat dikwels in SA gebruik word, sê dr. Jon Patricios, ’n êreldbekende sportharsingskudding-kundige. Dis nie prakties of finansieel haalbaar om elke speler jaarlikse gerekenariseerde breinfunksietoetse te laat ondergaan nie, sê hy. Maar wanneer dit wel beskikbaar is, kan dit klinici meer ingeligte besluite help neem.

Ingesteldheid moet nog verander

Rugbyliefhebbers word nog soms wysgemaak ’n speler wat aanhou speel nadat hy katswink geloop is, is dapper, sê James Brown, ’n navorser oor harsingskudding in sport aan die Universiteit van Kaapstad. “Dié houding is gevaarlik op elite-vlak, en des te gevaarliker vir jong spelers.

“Ons het gehoor van gevalle waar ouers hul kinders met harsingskudding en teen dokters se aanbeveling na die spel wil laat terugkeer.”

Beskermende drag stellig ondoeltreffend

Ekstra dik, gestopte rugby-kopskerms het ondoeltreffend teen harsingskudding geblyk te wees, sê James. Navorsing toon spelers met kopskerms en skouerkussings is meer geneig om seer te kry omdat dit hulle soos ’n supermens laat voel.

Is sommige spelers minder vatbaar vir harsingskudding en breinbeserings?

Baie jong en ouer spelers is meer vatbaar vir breinskade as jong volwassenes, sê Ann. Andersins loop individue met bestaande neurologiese afwykings, leergestremdheid, aandagafleibaarheid-en-hiperaktiwiteit-steuring en psigiatriese afwykings blykbaar ’n hoër risiko.

Maar te veel stampe kan eindelik almal aantas, voeg sy by. “Alle individue, ongeag hoeveel beskermende faktore, sal ’n risiko loop.”

Dit moet verder nagevors word, maar daar’s reeds sprake dat mense met ’n sekere genetiese samestelling vatbaarder is vir harsingskudding of die simptome vir langer ervaar, sê James Brown.

Posisie mag ook ’n rol speel, bloot omdat spelers in sekere posisies by meer duikslae betrokke is . . . of moontlik wanneer iemand in ’n posisie speel waarmee hy nie vertroud is nie. In onlangse navorsing is bevind die meeste ernstige hoofbeserings kom in duikslae voor.

Maar Jon sê: “Al spelers wat ons in dié stadium wéét ’n hoër harsingskuddingsrisiko loop, is dié wat in die onlangse verlede harsingskudding opgedoen of voorheen veelvuldige harsingskuddings ervaar het . . .”

- Richard van Rensburg