Dit kan senutergend wees om te weet jy moet ’n operasie ondergaan, al is dit roetine.

Jy wil dalk ’n skoonheidsalon besoek om te verseker jy lyk op jou beste voor jy onder die mes gaan. Maar sommige besluite wat mense neem in die dae of ure voor ’n operasie, kan maak dat die prosedure uitgestel word of die herstelproses daarna beïnvloed.

Hier is nuttige wenke om te sorg alles verloop glad wat ’n operasie betref:

Terwyl jy jou dalk oor liggaamshare bekommer, kan die skeer van beenhare voor ’n operasie jou die gevaar laat loop om ’n ontsteking op te doen.

“Skeer lei tot mikroskopiese snye en skaafplekke wat die vel se skans teen kieme kan ontwrig; dit kan dan die vel en haarfollikels koloniseer,” verduidelik Andy Goldberg, konsultant ortopediese chirurg by die Wellington-hospitaal in Londen.

Lees ook: Videospeletjies kan voordele inhou, maar . . .

“Terwyl die risiko nie baie hoog is nie, is dit goeie praktyk om die skeerdery aan die chirurg oor te laat. Die beste tyd om hare te verwyder, is net voor die operasie, pleks van vooraf.”

Dis ook belangrik om te sorg jou naels is nie te lank voor die operasie nie, want vullis kan daaronder vasgekeer word en die gevaar vir ontsteking laat toeneem.

Jy kan ook vergeet van ’n duur manikuur of pedikuur, want dit is nog ’n moontlike hindernis vir herstel ná ’n operasie.

“Tydens ’n operasie gebruik ons peilers om die vlak van suurstof in ’n pasiënt se bloed te meet,” verduidelik Oliver Warren, ’n konsultant-chirurg en medeskrywer van die nuwe boek Going Into Hospital? A Guide for Patients, Carers and Families.

“Dit word aan die vinger geheg; dus moet naellak verwyder word voor dit gebruik kan word.”

Lees ook: Speelterreinverf bevat gevaarlike hoeveelheid lood

Kenners raai mense ook af om te stort die aand voor hulle in die hospitaal opgeneem word, veral as hulle die dag van die operasie tyd het om hulle te verfris. ’n Mens weet nie hoe lank jy bedlêend sal wees of sal sit met ’n verband wat nie mag nat word nie.

Dr. Ron Cutler, mikrobioloog aan die Queen Mary-universiteit van Londen, beveel aan jy neem twee tandeborsels saam.

Terwyl hospitale gewoonlik baie skoon is, kan dit jou herstel bevorder om ’n nuwe tandeborsel ná die operasie te gebruik. Dit sal nie kieme bevat nie en nie jou immuunstelsel kniehalter wat ná ’n operasie swakker kan wees nie.

En laastens, as jy aangesê is om te vas voor ’n operasie, moenie kul deur kougom te kou nie. Dit kan veroorsaak dat ekstra suur in jou maag vrygestel word.

© Cover Media