Die Amerikaanse Voedsel-en-medisyne-owerheid (VMO) het gewaarsku die verkeerde gebruik van dié soort skoonmaakoplossings kan jou risiko vir ooginfeksies en -beserings verhoog.

Wanneer waterstofperoksied in oplossings vir kontaklense gebruik word, kan dit help om kontaklense skoon te maak en te ontsmet deur vasgekeerde vullis, proteïen en vetneerslae af te breek en te verwyder.

“Waterstofperoksied is ’n baie goeie manier om jou kontaklense skoon te maak omdat dit behoorlik ontsmet en boonop nie preserveermiddels bevat nie,” sê Marcel Snyman, ’n oogkundige wat op Stellenbosch en Gordonsbaai praktiseer.

“Sommige gewone oplossings bevat baie preserveermiddels, wat veroorsaak dat die oog geïrriteerd raak en die kontaklens nie gemaklik in die oog sit nie.”

Tog is dié oplossing nie sonder sy gevare nie.

Bernard P. Lepri, ’n oogkundige by die VMO, het gebruikers in ’n verklaring gemaan om nooit hul oë in regstreekse kontak met die middel te plaas nie. Marcel stem saam en sê dit is geweldig belangrik dat kontaklensdraers eers die oplossing laat neutraliseer. “Anders kan dit jou kornea beskadig en jou oë laat brand.”

e

’n Neutraliseermiddel behoort saam met jou kontaklensoplossing te verskaf te word. Dit verander die peroksied in water en suurstof en dit maak die lense veilig vir jou oë.

Voor jy die oplossing met waterstofperoksied gebruik, moet jy al die waarskuwingsetikette en aanwysings lees.

“Dis belangrik om jou lense ses uur lank in die oplossing te laat rus. As jy dit vroeër uithaal, gaan die waterstofperoksied nog nie geneutraliseer wees nie,” beklemtoon Marcel.

Die VMO het vroeër vandeesmaand ’n verslag uitgereik wat waarsku teen die onveilige gebruik van kontaklense, byvoorbeeld om daarmee te slaap of om dieselfde paar te lank te gebruik. Dié gedrag kan lei tot ernstige oogbeserings.

Hulle gee die volgende sewe wenke:

1. Moenie met jou kontaklense in slaap nie; dit verhoog die risiko vir ooginfeksies met ses tot agt keer.

2. Gesels met jou oogsorgverskaffer voor jy besluit watter skoonmaak- en ontsmettingsmetode die beste is vir jou kontaklense. Moet nooit jou lensversorgingstelsel verander sonder om met jou verskaffer te gesels nie.

3. Lees alle aanwysings op die boks en bottel voor jy ’n nuwe oplossing gebruik en volg dit sorgvuldig. As jy enige vrae het, bel jou oogsorgverskaffer dadelik.

4. Moet nooit oplossings wat waterstofperoksied bevat met iemand deel nie. Ander mense kan jou oplossing met veeldoelige oplossings verwar en nie die aanwysings volg nie. Dit kan hul oë beskadig.

5. Gebruik altyd die spesiale kontaklenshouertjie wat by elke nuwe bottel van die oplossing ingesluit is. Moet nooit ’n ander houertjie gebruik as die een wat by elke nuwe bottel is nie.

6. Laat die kontaklense minstens ses uur lank in die oplossing tot die neutraliseringsproses voltooi is.

7. Moet nooit jou kontaklense met waterstofperoksiedoplossings afspoel nie.

Ekstra bron: Cover