Sitrusvrugte is nie net verfrissend nie; navorsers het nou bevind dit verlaag ook ’n mens se risiko vir beroerte.

Dr. Michael Greger het navorsing gedoen en vir The Daily Mail in breë trekke geskets dat ’n fitonutriënt, genaamd hesperidien, wat in voedselsoorte soos lemoene voorkom, help om die bloedsirkulasie deur die hele liggaam, ook die brein, te verbeter.

’n Beroerte kom voor wanneer die vloei van die bloed na ’n deel van die brein beperk word, en dit veroorsaak dat daardie gedeelte nie suurstof kry nie en eindelik sterf dié deel wat deur die geblokkeerde aar gevoed moes word.

’n Masjien, genaamd ’n Doppler Fluximeter, wat ’n laserstraal gebruik om die bloedvloei te meet, het vasgestel ’n oplossing wat dieselfde hoeveelheid hesperidien bevat as twee glase lemoensap, het die beweging van bloed in die liggaam aangehelp.

Dit het selfs beter gevloei toe deelnemers regte lemoensap drink pleks van ’n oplossing; dus is dié vrug noodsaaklik vir goeie gesondheid.

Lees ook: Ontbyt oorslaan ‘moontlik goed vir jou dieet’

Tog moet mense nie net sitrusvrugte verorber om ’n beroerte af te weer nie.

In ’n ander artikel lig ’n dokter die belangrikheid van antioksidante uit in die stryd teen dié probleem.

“Hoekom het ons antioksidante nodig?” vra hy aan die lesers.

“Weens die vrye radikale – molekules wat jou gene kan beskadig en mutasies in die chromosome veroorsaak, en dit lei tot kanker.

“Die skade van vrye radikale hoop lewenslank in jou selle op, en op ’n sekere punt kan die selle net nie langer voortbestaan nie. Jy kan wel hierdie proses verlangsaam deur kos te eet wat baie antioksidante bevat. Hulle beskerm jou blykbaar teen ’n beroerte deurdat hulle verhoed dat geoksideerde vette in die bloedstroom sirkuleer.”

Hy het in die besonder ingegaan op ’n studie deur Sweedse navorsers waarin meer as 30 000 ouer vroue oor 12 jaar gemonitor is en daar bevind is hoe meer antioksidantryke voedsel hulle geëet het, hoe laer was die risiko vir beroerte.

Lees ook: Geraasbesoedeling kan jou hart aantas

Aan watter voedselsoorte moet jy dus smul?

Dit is alombekend dat bloubessies ’n allemintige antioksidant-hou slaan, en ’n mens kan dit maklik deel maak van jou ontbyt-smoothie of slaai vir middagete.

Okkerneute en pekanneute haal ook die paal, net soos nierbone, artisjokke en donker sjokolade (in klein dosisse!).

Daar is bevind dat antioksidantbyvoegings minder voordelig is. Dit is dus belangrik dat jy jou dieet met die dié soort kos laai, pleks van staatmaak op pille of allerhande foefies.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Mense dink ek het my baba verkoop,’ sê ma van ontvoerde Worcester-baba

Negejarige sterf raaiselagtig tydens vlug

Het jy al gewonder waar ritssluiters vandaan kom?

Basta met kankerbehandeling! 90-jarige inspireer talle met haar verrykende lewensuitkyk, al is sy hoe siek

WhatsApp verdwyn eersdaags van sommige selfone