Gelukkig het navorsers aan die Johns Hopkins-universiteit nou eetplanne vir gewigsverlies bekyk om uit te vind of dit werklik vrugte afwerp.

Volgens dié Amerikaanse studie is daar baie min dieetplanne wat jou werklik sal help om die gewig op lang termyn af te skud. Party is ook nie juis voordeliger as om jou eie eetplan te volg nie, en ander is selfs skadelik.

Navorsers het 4 200 vorige studies oor diëte onder die loep geneem en gekyk na hul doeltreffendheid. Die skokbevinding is dat net ’n paar dosyn wetenskaplik betroubaar is. Van die goeies om te volg is Weight Watchers, Jenny Craig en NutriSystem. Navorsers het eindelik 11 dieetplanne van nader bekyk. Die Atkins-dieet, SlimFast en die internetgebaseerde Biggest Loser Club, eDiets en Lose It! is bekyk op programme wat verslankers op hul eie kan volg. Weight Watchers, Jenny Craig en NutriSystem was in die hoë-intensiteitsgroep. Laastens is die laekilojoule-maaltydvervangingseetplanne HMR, Medifast en OPTIFAST bekyk. Die pryse wissel van gratis tot meer as R8 000 per maand.

Die skokbevinding is dat net ’n paar dosyn wetenskaplik betroubaar is.

Net twee eetplanne het die paal gehaal met verslankers wat gemiddeld meer gewig in ’n jaar verloor het as wat hulle op hul eie sou kon – Weight Watchers en Jenny Craig. Maar selfs in dié gevalle was gewigsverlies net 3 tot 5 persent meer.

NutriSystem het belowende resultate getoon, maar daar was net data beskikbaar van mense wat die dieet drie maande lank gevolg het. Laekilojoule-eetplanne het ook meer gewigsverlies ná ses maande getoon, maar daar kan gesondheidsnadele wees as jy te drasties aan jou eetplan sny.

“Ons wil hê mense moet die gesondheidsvoordele van gewigsverlies ervaar – laer bloeddruk, cholesterol en bloedsuikervlakke en ’n laer risiko vir siektes soos diabetes,” sê Jeanne Clark, ’n professor in geneeskunde.

“Daardie voordele is langtermyndoelwitte; daarom hou dit beperkte gesondheidsvoordele in om gewig vir drie maande te verloor en dit weer aan te sit. Dis hoekom dit belangrik is om studies te doen wat kyk na gewigsverlies ná 12 maande en langer.”

Hulle hoop navorsing soos dié sal dokters help om oorgewig pasiënte raad te gee oor die doeltreffendste eetplanne.

© Cover Media