Jy is nie die aangenaamste mens wanneer jy in ’n slegte bui is nie, en dit is nog erger wanneer jy nie kan peil hoekom jy so voel nie.

Party dinge kan ergernis veroorsaak sonder dat jy dit besef, en die scenario’s is ook nie so voor die hand liggend nie.

Die binnekant van jou huis

Ná ’n lang, stresvolle dag by die werk wil jy die aand in ’n ontspannende plek deurbring, maar jou huis is dalk nie die beste plek nie. Die kleur rooi kan party mense kwaad en vyandig laat voel, wat nie die beste gevoel is wanneer jy wil kalmeer nie. In teenstelling straal die kleur geel geluk uit, terwyl blou ’n ontspannende kleur is. Dit is ook al bewys dat prente met landskappe jou bui kan verlig, ’n positiewe uitwerking het en angs verminder.

Agtergrondlig

As jy dikwels aan die slaap raak terwyl jy TV kyk, met jou bedlampie aan lees of met feeligte om jou bed, kan dit ’n groot uitwerking hê op jou bui soggens. Navorsers het bevind die bui-regulerende hormoon melatonien word onderdruk omdat die beste in donkerte vervaardig word. Oorweeg dus donker blindings vir ’n lekker nagrus as jy sukkel met gemoedskommelings.

Vriende

Ons is dol oor ons pelle wanneer hulle in ’n goeie bui is, maar as een van hulle effe swaarmoedig is, sal dit heel waarskynlik jou ook raak. Emosies word maklik oorgedra; jy kan jou ongelukkige vriend dalk ’n bietjie positiewer help raak. As jy self ’n bietjie liggeraak voel, is dit dalk die beste om jou met optimistiese mense te omring tot daardie pel weer beter voel.

Bevordering by die werk

Dit word as ’n groot prestasie beskou en moet nie anders gereken word nie, maar die stres van ’n bevordering kan veroorsaak dat jy druk in die werkplek voel. In ’n studie deur die Warwick-universiteit in die Verenigde Koninkryk het navorsers bevind party werknemers meer spanning ervaar, en mense se geestesgesondheid daal met ’n tiende nadat hulle ’n nuwe pos ontvang. Maak seker jy kan die werklading hanteer en pak enige probleme met jou baas sodat julle in vrede saamwerk.

Rook

Dit is nie net sleg vir jou liggaamlike gesondheid nie (dit kan kanker en hartsiekte veroorsaak), maar dit kan jou ook sielkundig raak. Dit kan depressie veroorsaak; een eksperiment beweer dié wat aan nikotien verslaaf is, is twee keer so geneig om depressiewe simptome te ontwikkel.

© Cover Media