Sommige inwoners van Mosselbaai beskou die onlangse uitbreking van virale meningitis daar as die ergste in agt jaar.

[caption id="attachment_116373" align="alignnone" width="600"]Foto: http://www.torange.us/ Foto: http://www.torange.us/[/caption]

Sedert Desember is sowat 35-40 gevalle in drie weke by die Bay View-hospitaal aangemeld, sê dr. Heinrich Sandilands, ’n pediater by die hospitaal. Al die betrokke pasiënte is kleuters.

Lees ook: Gevalle van breinvliesontsteking in Mosselbaai styg

“Dit is nie ongewoon om hierdie tyd van die jaar baie gevalle te kry nie. In Desembermaand stroom vakansiegangers na Mosselbaai en steek mekaar aan, maar vanjaar was daar ’n piek, wat ongewoon is,” sê hy.

Volgens Georgia Argyropoulo, hoof van Kids Kingdom-kleuterskool, was daar in Januarie 18 gevalle uit 120 kinders by haar skool. “Dit is ’n epidemie, maar baie van die omliggende skole gee nie aandag aan die kwessie nie,” sê sy.

Georgia sê haar personeel gee ekstra aandag aan die higiëne van die kinders en die perseel, maar as een kind siek raak, word ander ook aangesteek.

Sy het intussen saam met van die ouers ’n petisie geteken om die kwessie onder die burgemeester se aandag te bring. “Bewustheid moet by ander skole geskep word, anders gaan ons nie ontslae kan raak van hierdie epidemie nie,” sê sy.

Georgia sê haar en nog twee kleuterskole moes noodgedwonge vir twee weke sluit om die verspreiding virus te probeer bekamp, veral nadat van die ouers ook begin siek raak het.

Lees ook: Dit is wat jy oor die Zikavirus moet weet

Uewellyn Whittaker is die pa van Nathan (3), wat by Kids Kingdom, skoolgaan, het middel Januarie begin siek voel toe hy in Kaapstad was vir werk.

“Ek het intense kopsere en nekpyn begin ervaar,” sê hy. “In daardie stadium het my vrou my gebel en gesê meningitis is ná ’n lumbale punksie by Nathan gediagnoseer. Hy is dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan. “Toe ek weer op Mosselbaai kom, vind ek uit ek het by Nathan aangesteek.”

Volgens Uewellyn het Georgia en haar span onmiddellik opgetree toe hulle agterkom Nathan lyk nie lekker nie. Nadat na hy begin opbring het, het hulle hom en sy vrou in kennis gestel. “Ek is net baie dankbaar daar was mense wat vinnig genoeg kon agterkom iets is fout met my kind. Van die skole in die area stuur nie hul kinders huis toe as hulle sien iets is fout nie.”

Daar is meer as een soort meningitis:

1) Virale meningitis

Dis die algemeenste soort en die minste skadelik van die drie. Dit word verkry deur ’n uiterlike virus, maar kan ook deur virusse soos masels en waterpokkies veroorsaak word.

Simptome:

  • Koors.
  • Hoofpyn.
  • Stywe nek.
  • Naarheid.

Hoe om dit te verhoed:

  • Was jou hande gereeld.
  • Vermy kontak met iemand wat die virus het.
  • Maak seker jy is ingeënt teen waterpokkies en masels.

2) Bakteriële meningitis

Bakteriële meningitis is lewensgevaarlik. As dit nie reg behandel word nie, kan dit breinskade, verlies aan gehoor en selfs die dood veroorsaak. Hierdie soort meningitis word veroorsaak deur ’n bakterie wat in die bloedstroom en eindelik in die brein en rugwerwels beland.

Simptome:

Bakteriële meningitis het dieselfde simptome as die virale soort; daarom is die korrekte diagnose so belangrik, sê die pediater dr. Heinrich Sandilands. Dit kan ook na ’n verkoue lyk; daarom is dit noodsaaklik om so gou moontlik mediese hulp te kry. pasiënte is ook sensitief vir lig.

Hoe om dit te verhoed:

  • Laat jou inent daarteen.
  • Bakterieë word van mens tot mens versprei deur spoeg of as iemand nies.
  • Goeie higiëniese gewoontes word aangemoedig.

Ekstra bron: Everyday Health

– Deur Jacques Myburgh

Lees ook op Huisgenoot.com:

’n Fotoverhaal: Legendariese ‘prentjiemaker’ Jans Rautenbach vier 80

Gestresde pa’s ‘dra risiko vir diabetes oor aan nasate’

Gewilde sanger pak nare gewoonte om op jou selfoon te wees terwyl jy bestuur in musiekvideo