Die Britse mediese tydskrif The Lancet het wêreldwyd navorsing gedoen. Dit het 140 000 volwassenes in 17 lande betrek en die gevolgtrekking was dat ’n swak greep verband kan hou met gesondheidsrisiko’s, soos byvoorbeeld ’n hartaanval of beroerte.
Dokters glo dat die sterkte van die greep gebruik sou kon word as ’n nuwe instrument om gesondheidsrisiko’s te bepaal, en hulle meen dis akkurater as om slegs die bloeddruk in ag te neem.

Deelnemers was tussen 35 en 70 en hulle is gemiddeld vier jaar lank gemonitor. Die sterkte van hul greep is deur middel van ’n dinamometer bepaal. Navorsers het die krag gemeet wat die deelnemers uitgeoefen het wanneer hulle ’n voorwerp gedruk het so hard as hulle kon.

Die deelnemers is ook gevra om ’n vraelys in te vul wat hul ouderdom, rookgewoontes, oorgewig, bloeddruk, cholesterolvlakke en familiegeskiedenis ten opsigte van gesondheidsprobleme takseer het.

Die uitslae het aangedui dat, vir elke kilogram wat die greep verswak het, dit 16 persent meer waarskynlik was dat die persoon aan enige oorsaak sal sterf, terwyl die moontlikheid 17 persent hoër was dat hulle aan ’n kardiovaskulêre oorsaak sal sterf, en op ’n hoër persentasie styg die risiko op ’n hartaanval (sewe persent) of ’n beroerteaanval (nege persent).

Dokters glo dat die sterkte van die greep gebruik sou kon word as ’n nuwe instrument om gesondheidsrisiko’s te bepaal, en hulle meen dis akkurater as om slegs die bloeddruk in ag te neem.

“Greepsterkte kan ’n eenvoudige, goedkoop toets wees om die individu se risiko vir dood en kardiovaskulêre siekte te bepaal,” verduidelik dr. Darryl Leong, een van die navorsers aan die McMaster-universiteit in Kanada.

Die rede waarom swak gesondheid bepaal sou kon word deur ’n swak greep, is nog onbekend. Dit kan iets te doen hê met die verharding van die are wat spiersterkte verminder, maar Doireann Maddock van die Britse Hartstigting is nie heeltemal oortuig hiervan nie. Sy glo nog navorsing moet gedoen word voor ’n presiese verband gevind sal kan word.

“Die bevindings van hierdie studie is interessant. Dit verduidelik egter nie die rede waarom die sterkte van die greep verband hou met kardiovaskulêre siekte nie.

“Nog navorsing is nodig om enige moontlike verband tussen die twee te kan verstaan,” het sy bygevoeg.

© Cover Media