’n Kilojoule is ’n maateenheid vir kos se energiewaarde asook hoeveel energie ons liggaam verbrand, sê Tracy Ugarchund, ’n Kaapse dieetkundige. Jou liggaam kan energie gebruik vir liggaamlike aktiwiteite en om die basiese metaboliese prosesse, soos vertering en asemhaling, aan die gang te hou. As jy meer kilojoules inneem as wat jou liggaam nodig het, sal daardie energie gebêre word as vet, sê Tracy. Party kosse en drankies bevat meer kilojoules as ander. Die energiewaarde per gram van vet is byvoorbeeld 37 kJ, alkohol is 29 kJ, koolhidrate 16 kJ, proteïen 17 kJ en vesel 13 kJ.

Jou energievereistes

Die dieetkundiges by The Health & Lifestyle Consultancy beraam energievereistes met ’n eenvoudige formule:

1 Bepaal jou ideale liggaamsgewig deur jou liggaamsmassa-indeks (LMI) uit te werk: jou gewig (in kilogram) gedeel deur jou lengte (in meter) kwadraat, bv. 60 ÷ (1,6 x 1,6) = 23,4 LMI.

2 Daaglikse kJ = ideale liggaamsgewig (gegrond op LMI) of huidige gewig x 105 vir gewigsbehoud sonder oefening.

3 Daaglikse kJ = ideale liggaamsgewig of huidige gewig (gegrond op LMI) x 126 vir gewigsbehoud met oefening. Op grond hiervan moet Leigh elke dag minstens 5 040 kJ inneem.

Wil jy gewig afskud?

Jy moet jou energie-inname met sowat 2 000 kJ per dag verminder om tussen 0,5 en 1 kg per week te verloor, sê Nicqui. Maar kos se kilojoules reageer verskillend - party, soos verwerkte koolhidrate, kan tot hoë insulienafskeiding lei en maak dat jou liggaam vet opgaar, pleks van verbrand, so bly eerder weg van daai koek, brood en pastas.

Kalorieë VS. Kilojoules

Hulle is dieselfde, net verskillende maatstelsels, soos myle en kilometers. Een kalorie (kal.) is gelyk aan 4,2 kilojoule (kJ). Byvoorbeeld: As ’n produk 50 kal. bevat, bevat dit 210 kJ (50 x 4,2).