Die organisasie Dokters Sonder Grense het die Wêreldgesondheidsorganisasie in Januarie teen vyf moontlike epidemies gewaarsku wat vanjaar kan uitbreek, waaronder breinvliesontsteking.

Talle Suid-Afrikaners het die afgelope ses maande dié siekte opgedoen.

Vandeesweek het die Potchefstroomse student Ettienne de Villiers (19) nog een van die statistieke geword toe hy aan breinvliesontsteking sterf. In April is die siekte ook by ’n eerstejaarstudent van die Universiteit Stellenbosch gediagnoseer, maar hy het ná behandeling herstel.

En in Junie is Roelf Uijs (11) van Ellisras binne 24 uur dood nadat hy in die hospitaal opgeneem is weens die siekte. Boonop is meer as 30 gevalle tussen Desember verlede jaar en Januarie vanjaar in die Mosselbaai-omgewing aangemeld.

Twee soorte breinvliesontsteking

Breinvliesontsteking, oftewel meningitis, is ’n weefselontsteking in die brein en rugmurg wat deur ’n virus of bakterie veroorsaak word.

Bakteriese meningitis is lewensgevaarlik en aansteeklik, en word van mens tot mens oorgedra deur middel van besmette liggaamsvloeistowwe. Dit kan gebeur tydens nies- en hoesbuie, wanneer persoonlike gebruiksartikels soos lipstiffie of lipvogroom gedeel word, of met ’n soen.

Virale meningitis is in die meeste gevalle minder ernstig en die pasiënt kan gewoonlik heeltemal genees ná behandeling. Hierdie virus word onder meer deur muskiete of rioolbesmette water oorgedra.

Simptome

Die simptome van breinvliesontsteking stem dikwels baie ooreen met dié van ’n ernstige verkoue of grieptoestand. Dit sluit in ’n kwaai hoofpyn wat gepaardgaan met naarheid en ’n hoë koors.

Dit kan ook gebeur dat die slagoffer se oë baie sensitief raak vir lig en hulle kan kla dat hul nek styf is. In gevalle is dit so erg dat die mens skaars sy borskas met sy ken kan raak.

Nog moontlike simptome is diarree, lomerigheid, ’n donkerrooi uitslag oor die lyf, disoriëntasie en selfs bewusteloosheid.

Nie alle aangetaste mense kry al die simptome nie, maar pas eerder die goue reël van voorkoming toe en besoek ’n dokter indien jy sommige van hierdie simptome ervaar.

Hoe word dit behandel

Wanneer jy van hierdie simptome ervaar, spreek jou dokter sodat hulle die nodige toetse vir breinvliesontsteking kan doen.

Pasiënte wat positief getoets word, sal dadelik in ’n hospitaal opgeneem word vir behandeling. Dit is ook ’n slim idee om ’n voorkomende doktersbesoek te maak wanneer jy in kontak was met iemand wat breinvliesontsteking opgedoen het.

Hoe vroeër die toestand gediagnoseer word, hoe beter is die kans dat die pasiënt heeltemal sal herstel.

Bronne: health24.com; cdc.gov; meningitis.org