Volgens die uitslag van ’n onlangse studie geld dit moontlik nie vir almal nie.

Wetenskaplikes aan die Weizmann Institute of Science in Rehovot, Israel, het verskillende soorte brood vergelyk wat as die teenoorgestelde pole van die gesondheidspektrum beskou word.

Dit sluit in ’n industriële witbrood van verfynde koring en ’n suurdeegbrood uit ’n vakmansbakkery, van pas gemaalde volkoringmeel en in ’n klipherd-oond gebak en wat “veronderstel is om oor hoogstaande eienskappe te beskik”.

Twintig mense wat aan die studie deelgeneem het, is toe in twee groepe verdeel en gevra om ’n week lank groot hoeveelhede van die brood te eet, en ná ’n rustyd van twee weke, het hulle die brode omgeruil.

Die toetse het daarna getoon dat enige soort brood ’n invloed uitoefen op die bloedsuikervlakke, minerale, ensieme in die lewer, en ook op ander stowwe.

Die navorsers was verbaas toe hulle vind by sommige mense ontlok witbrood nie ’n negatiewe glukemiese respons nie.

“Ons was oortuig dat suurdeegbrood die gesonder keuse sou wees, maar het tot ons verbasing geen verskil tussen die gesondheidsuitwerkings van die twee soorte brood gevind nie,” was prof. Eran Segal se mening.

Die navorsers se teorie in reaksie op die bevindings was dat verskille in die mikrobiome van die derms moontlik kan verduidelik waarom mense verskillend reageer op verskillende soorte brood.

Samantha Heller, ’n senior kliniese voedingskundige van die New York University Langone Medical Center, het egter, ten spyte van die bevinding, bevestig dat die resultate van die klein studie nie ’n “vrypas” bied om groot hoeveelhede verwerkte witbrood te eet nie.

“Epidemiologiese navorsing het getoon dat mense wat meer volkoringprodukte soos volkoringbrood, kraakbeskuitjies, ontbytgraan, bruinrys en quinoa eet, ’n verlaagde risiko het vir Tipe 2-diabetes, hartsiektes, inflammasie, vetsug en sekere kankersoorte,” het sy aan CBS News gesê.

Die volledige studie is in Cell Metabolism gepubliseer.