Die meeste vroue sal minstens een keer in hul lewe blaasontsteking (sistitis) kry en talle etlike kere per jaar. Die nasionale gesondheidsdiens in Brittanje beskryf dit as inflammasie van die blaas, wat gewoonlik deur infeksie veroorsaak word.

Baie vroue én mans – wat dit ook kry, maar minder gereeld – kry koue rillings wanneer dit selfs net genoem word.

Sistitis word gewoonlik veroorsaak deur ’n bakteriële infeksie – wanneer bakterieë in die uretra beland.

Algemene oorsake:

  • seks;
  • stywe onderklere of langbroeke wat skuur;
  • toiletpapier waarmee ná ontlasting vorentoe gevee word (pleks van agtertoe);
  • die gebruik van ’n tampon saam met ’n diafragma;
  • om nie jou blaas heeltemal te ledig wanneer jy urineer nie.

Suikersiektelyers kan dit ook gereelder opdoen weens groot hoeveelhede suiker in die urine. En vroue in die menopouse loop ook gevaar, want die voering van die uretra kan krimp en dunner word weens ’n gebrek aan die hormoon estrogeen.

Sistitis kan ook veroorsaak word deur skade of irritasie aan die uretra (urinebuis) of blaas en is al in verband gebring met die gebruik van die dwelmmiddel ketamien.

Simptome

Die eerste keer dat jy sistitis kry kan ’n vreesaanjaende ervaring wees, maar as jy weet wat die kenmerkende simptome is, sal jy minder bekommerd wees.

Wees op die uitkyk na:

  • ’n sterk, gedurige behoefte om te urineer;
  • ’n brandende gevoel wanneer jy urineer;
  • gereelde uitskeiding van klein hoeveelhede urine;
  • die uitskei van troebel urine of urine wat skerp ruik;
  • ongemak in die bekken en lae rug;
  • ligte koors.

As jy sistitis betyds bespeur, kan jy dit waarskynlik met nie-voorskrifmedisyne behandel. Maar sodra jy bloed in jou urine sien, moet jy jou dokter spreek, want jy kort dalk ’n antibiotikum. Dit is ook raadsaam om in elk geval mediese hulp te kry wanneer jy dit die eerste keer opdoen.

Maniere om jou ongemak te verlig:

  • Om baie water te drink help gewoonlik om sistitis te voorkom. Maar dit is ook belangrik om genoeg water te drink wanneer jy sistitis het. Dit kan help as jy ’n teelepel koeksoda by water voeg om te keer dat jou urine so suur word.
  • Vermy koffie en drank tydens ’n aanval.
  • Sit in ’n warm bad.
  • Probeer jou gedagtes van die pyn aflei. Televisiekyk lei dalk nie heeltemal jou aandag af nie, maar speel woord- en syferspeletjies om jou te laat help vergeet jy wil pal ’n draai loop.
  • Vermy seks.
  • Hou ’n warmwaterbottel teen jou maag, lae rug en tussen jou bene.
  • Apteke en supermarkte verkoop sakkies wat met water gemeng word vir verligting van sistitis. Dit begin binne enkele ure werk.

Vermy sistitis so:

Vroue is meer geneig om sistitis te kry, want hul urinebuis is veel korter en nader aan hul anus as mans s’n.

  • Sorg dat jy altyd van voor na agter afvee om te voorkom dat bakterieë so versprei.
  • Stort of was voor seks.
  • Skei urine uit nadat jy seks gehad het om enige bakterieë uit te spoel wat dalk die urinebuis binnegegaan het.
  • Ledig jou blaas volledig wanneer jy ’n draai loop.
  • Vermy styfpassende jeans wat kan skuur en dra onderklere van katoen.

Party mense glo bosbessietablette kan herhalende aanvalle voorkom. Kapsules is meer doeltreffend as bosbessiesap, wat nie gekonsentreerd is nie en baie suiker bevat.

© Cover Media