Onlangse navorsing het getoon gelukkige paartjies wat aan mekaar se behoeftes voldoen, slaap beter.

Vir die studie, wat van stapel gestuur is deur die Middle East Technical University in Turkye, is 350 paartjies tussen 35 en 86 jaar oud ingespan.

Hulle is óf getroud óf woon saam. Mans en vroue is uitgevra oor hul slaappatrone, byvoorbeeld of hulle van pille afhanklik is om in te sluimer en of hulle bedags sukkel om wakker te bly.

’n Groep paartjies het apparate aan hul pols gekry wat hul beweging en slaaptye ’n week lank gemonitor het. Hierbenewens is die betrokkenes uitgevra oor hoeveel hulle dink hul maats vir hulle omgee en hulle waardeer, sowel as besonderhede oor hul geestes- en algemene gesondheid.

Die hoofskrywer, dr. Emre Selcuk, en sy span het die resultate bekyk en ’n korrelasie gevind tussen die persepsie van ondersteuning van ’n maat en hoe ononderbroke die mense se slaap is.

“Die inherente interafhanklike aard van volwasse romantiese verhoudings beteken dat romantiese maats, sowel as beskouings oor ’n mens se romantiese maat, ’n beduidende rol speel in die verbetering van gesondheid en welsyn,” was die kundiges se gevolgtrekking.

Dit is in die tydskrif Social Psychological and Personality Science gepubliseer. “Ons bevindings dui daarop dat die opvatting oor die verhouding beïnvloed hoe goed slaaphulpmiddels werk. Dit verbeter ook die algemene welsyn van die individu.”

Daar word geglo dat versterkende slaap – ’n diep, onverstoorde staat – waarskynliker is wanneer jy veilig, geborge en beskermd voel. Ouers en familie verskaf hierdie sensasie gedurende die kindertyd, terwyl volwassenes op romantiese maats staatmaak om dit te doen.

“Alles in ag genome, dui die versamelde resultate daarop dat ’n ondersteunende maat ons beste kans is vir ’n gelukkiger, gesonder en langer lewe,” het die dokter afgesluit.

© Cover Media