’n Vrou se eierstokke vervaardig minder estrogeen gedurende menopouse en by driekwart van die vroue lei dit tot warm gloede wat ’n ernstige uitwerking op hul lewensgehalte kan hê.

Sommige vroue kan tot 30 warm gloede in 24 uur ervaar en dit krap hul slaap, verhoudings en werk om.

Volgens wetenskaplikes by die Imperial College in Londen, het hulle nou ’n nuwe middel ontwikkel wat werk, aangesien dit ’n sein van die brein, wat die gloede aan die gang sit, blokkeer.

Dr. Julia Prague, ’n endokrinoloog, het aan die Britse Daily Mail gesê warm gloede word deur die vrystelling van ’n breinhormoon genaamd neurokinien B aan die gang gesit in reaksie op dalende estrogeenvlakke.

Die Imperial-span het bevind dat rotte wat neurokinien B ontvang het, die knaagdierekwivalent van ’n warm gloed ervaar het, maar nadat hulle die middel wat die uitwerking blokkeer, ingeneem het, het die gloede opgehou.

Lees ook: Borskanker meer aggressief by vetsugtige vroue

Toe het hulle ’n samestelling genaamd AZD4901 ontdek wat, volgens hulle, warm gloede kan stopsit.

Julia het bygevoeg van al die simptome van menopouse is warm gloede geneig om vroue die meeste te pla.

“Dit kan ’n geweldige uitwerking op vroue se lewe hê, maar aangesien dit steeds taboe is om oor menopouse te praat, ly baie vroue in stilte,” het sy verklaar.

Sommige menopousale vroue kan wel kies om hormoonvervangingsterapie (HVT) te kry, wat estrogeenvlakke kunsmatig in stand hou. Baie vroue is egter versigtig om hierdie pad te kies, aangesien sommige verslae dit met ’n verhoogde risiko vir hartsiektes, asook borskanker en kanker van die eierstokke verbind.

Volgens Julia kan die nuwe behandeling “baie betekenisvol” wees vir vroue wat nie HVT kan neem nie, of vir dié wat voortgaan om warm gloede te kry.

“As alles reg verloop kan dit binne vyf jaar as deel van roetinegebruik in klinieke vorm,” het sy gesê.

Sy het die feit benadruk dat dit nie sou help vir ander menopousale simptome, soos gemoedsveranderings, nie.

Die navorsers wil nou ten minste 30 vroue werf wat die medisyne vier maande lank kan toets.

Lees ook: Wat is endometriose en waarop moet jy let?

Wat is warm gloede?

Warm gloede is die algemeenste simptoom van menopouse en dit duur gewoonlik korter as vyf minute.

Dit word gekenmerk deur ’n skielike gevoel van hitte wat deur die liggaam versprei en wat sweet, hartkloppings en blosery kan insluit.

Warm gloede kan gewoonlik nog jare nadat die vrou se maandstondes opgehou het, voortduur, selfs tot in die vrou se 70’s of 80’s.

Wat sit dit aan die gang?

Warm gloede kan sonder waarskuwing enige tyd van die dag of nag voorkom, maar daar is alombekende oorsake, insluitend: warm oortrektruie, veral dié met ’n polonek; wanneer jy gespanne voel; wanneer jy koffie of alkohol drink; of as jy sterkgekruide kos eet.

Hoe om oorverhitting draaglik te maak

’n Paar rate wat sal help om oorverhitting draagliker te maak, sluit in: Skakel koffie en tee uit; gebruik ’n waaier om jou vertrek koel te hou; bespuit jou gesig met ’n koel water; dra ligte klere in los lae; gebruik ’n paar lakens op jou bed pleks van ’n duvet; teug aan koue of ysdrankies; en stort of bad in louwarm pleks van warm water.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot.com:

#GuptaGate: Sal die korruptes ooit aan die pen ry?

‘Daar’s ’n Gupta op my stoep!’ Hier’s die snaakste Gupta-fliekname op Twitter

Is Jacob Zuma se dae as president getel?

Eendjies, eendjies een-een van Johannesburgse hoofweg deur paramedici gered

Man stel aanlyn profiel as vrou op, met skokkende gevolge