Hoeveel jy moet inkry, is debatteerbaar. Sommige mense meen sowat vyf porsies daagliks is te min; jy moet amper 10 inkry. Maar almal stem saam, rou is die gesondste, of hoe?

Daar is lank geglo ’n mens moet groente rou eet om te verseker jou liggaam neem al die heilsaamheid daarin op. Maar nou meen sommige kenners sekere variëteite is gesonder as ’n mens hulle eers met hitte in aanraking bring.

Mel Wakeman, voedingsdeskundige, is ’n senior lektrise in toegepaste sielkunde aan die Stadsuniversiteit van Birmingham, en sy het verduidelik hoekom dit die geval kan wees.

“Baie van die voedingstowwe in plante word dikwels moeiliker deur die spysverteringskanaal geabsorbeer as voedingstowwe wat in diereprodukte voorkom. Plantvesel verbind dikwels hoofsaaklik met minerale en verlaag so hul beskikbaarheid vir gebruik deur die liggaam (hul biobeskikbaarheid),” het sy aan The Daily Mail se Femail-afdeling gesê.

“Verhitting kan help met die afbreek van die vesel en dit kan so sommige van die minerale vrystel vir opname. Dit kan dikwels lei tot verhoging van die fitochemiese inhoud van plante, wat ekstra nievoedsame voordele vir ons gesondheid kan inhou.”

Spinasie, wortels, tamaties, sampioene en aspersies val onder die variëteite wat na bewering moontlik verbeter kan word as dit aan hitte blootgestel word. Wanneer tamaties verhit word, verhoog hul lisopeenvlak, wat gekoppel word aan die vermindering van die risiko vir prostaatkanker. Die probleem is egter dat, alhoewel kook hierdie proses aanhelp, dit ook die hoeveelheid ander voedingstowwe verlaag. Daarom is dit uiters belangrik om vrugte en groente op verskillende maniere te eet, soms warm en soms koud.

'Dit wat tuis gekweek word, is aansienlik smaakliker en gesonder as dit wat uit die supermark kom'

Wortels is tjokvol karotenoïed, ’n antioksidant, wat verhoog word wanneer die wortels gekook word. En wanneer spinasie verhit word, neem die liggaam makliker die yster daarin op.

Dit is ook nie al die nuus oor vrugte en groente wat deesdae die ronde doen nie. In ’n studie namens die BBC is bevind ’n feit waaroor daar al dekades lank gestry word, is die waarheid– dit wat tuis gekweek word, is aansienlik smaakliker en gesonder as dit wat uit die supermark kom.

Daar is bevind tamaties wat jy in jou agtertuin kweek, is ryker aan natuurlike suiker, antioksidante en sekere voedingstowwe as dié wat grootskaals verbou word.

© Cover Media