Kom ons kyk hoekom jy maar kan dans al voel dit jy het twee linkervoete – en ook nie hoef skaam te wees om dit op jou eie uit te kap nie.  

Raak soepel  

As jy heeldag agter ’n lessenaar sit, voel jou gewrigte en spiere waarskynlik styf. Pleks van voor die televisie opkrul met ’n koppie tee, volg ballerinas se raad. Die strekoefeninge wat hulle doen, help met soepelheid en buigsaamheid. Doen ná ’n lang werkdag ’n paar eenvoudige strekoefeninge voor die televisie.

Verbeter geheue

Navorsing wat in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, toon dans kan jou geheue bevorder en keer dat jy demensie kry. Aërobiese oefening kan verlies omkeer in die hippokampus, wat geheue beheer.

Verminder stres

Bekommer jy jou oor jou werk of familie of ander probleme? Moet jou nie sit en verknies nie, dans liewer alleen of saam met ’n maat. Dit sal endorfiene laat vrystel en jou uitput sodat jy die nag lekker slaap. Dalk raak jy aan die lag terwyl jy op jou eie dans, en lag doen ook wondere.

Hartgesondheid

Vir diegene met ’n risiko vir kardiovaskulêre siekte is dans ’n besonder goeie idee. In ’n Italiaanse ondersoek het mense met hartversaking wat begin wals het, meer verbeteringe in hul hartgesondheid, asemhaling en lewensgehalte bespeur as dié wat gestap of fiets gery het.

Gewigsverlies

Wil jy voor Kersfees ’n paar kilogram afskud? Dans is meer pret as baie ander soorte oefening. Kry ’n vriend en ’n dans-DVD as jy inspirerende musiek en bewegings nodig het.

Energie-inspuiting

As jy soggens op die bus indommel, kan dans help. ’n Onlangse ondersoek toon ’n weeklikse dansprogram het volwassenes se energie help toeneem.

Maak vriende

Mense wat graag nuwe mense ontmoet, geniet dalk ’n dansklas by hul gim of gemeenskapsentrum. Die ander mense daar sal dieselfde ingesteldheid hê en die samesyn sal julle almal opbeur.

© Cover Media