Hier is ’n paar redes waarom volwassenes moontlik met aknee kan sukkel.

-          Jy gebruik te veel skoonheidsprodukte

Die mark is deesdae propvol wonderkure en rome, salwe en smere om probleemvelle te genees, maar as jy al hierdie oplossings tegelyk beproef, kan jy jou vel meer kwaad as goed aandoen.

Gaan spreek eerder ’n kenner en kry ’n aanbeveling oor watter produk om te gebruik, of kies self een produk en hou daarby.

-          Stres

Dit is geen geheim dat stres sy stem dik maak deur ons liggaam nie. As jy met volwasse aknee sukkel, kan jou liggaam jou daarmee probeer sê jy moet ’n blaaskans neem.

-          Hormone

Die Amerikaanse Akademie vir Dermatologie het bevind tot die helfte van vroue sal in die jare ná hul tienerjare met aknee sukkel. Hierdie aknee word aangewakker deur wanbalanse in jou hormone en kan ook beïnvloed word deur swangerskap, menopouse en wanneer jy van voorbehoedmiddel verander.

Hierdie velprobleme is meer geneig om rondom jou mond en ken voor te kom, teenoor tieneraknee wat op die wange en voorkop vorm. Gaan spreek ‘n dermatoloog of ginekoloog as jy vermoed hormone sit agter jou velprobleme.

-          Jy het nie aknee nie; jy het ’n uitslag

Middeljarige vroue se vel kan met ander vorms van ekseem of irritasie sukkel. Hierdie rooi uitslae kan maklik met aknee verwar word. As jy vermoed jou probleemvel is te wyte aan iets anders as aknee, gaan spreek ’n kenner.

-          Jy karring

Hoewel jou volwasse aknee jou slapelose nagte gee, vererger jou konstante gekarring daaraan dit net. Pleks van ure voor die spieël staan en druk en krap, is dit beter om die aknee met rus te laat en medikasie of ’n velsorgroetine te gebruik.

Bronne: Huffington Post, Mayoclinic.org, refinery29.com, livestrong.com, webmd.com