burgers

So meen kenners aan die Universiteit van Cambridge in Engeland, wat in ’n nuwe studie bevind het ’n geenmutasie wat by sekere mense voorkom maak vetterige kos vir hulle onweerstaanbaar.

Die geen kan ook daartoe lei dat draers nie gesonder weergawes van hul gunstelingbederfkosse ewe bevredigend vind nie.

“Ons werk toon selfs al beheer ’n mens die voorkoms en smaak van die kos, kan ons brein steeds agterkom of dit vetterige of gesonde kos is,” het een van die navorsers gesê.

Een uit elke 100 mense het glo hierdie geen wat daartoe lei dat jy vetterige kos onweerstaanbaar vind.

Om hul teorie te toets, het die span navorsers ’n eet-soveel-soos-jy-kan-buffet aangebied waar 10 van die 54 mense wat deelgeneem het dié geen het wat hulle ekstra lief maak vir eetgoed met baie kilojoules en ’n hoë vet-inhoud.

Die deelnemers kon uit drie soorte kerrie kies wat elkeen, sonder dat deelnemers daarvan bewus was, ’n ander vetinhoud het. Hulle moes eers al drie soorte kerrie proe en dan op een besluit wat die lekkerste is en verder daarvan eet.

Die gevolg was dat die deelnemers met die spesiale geenmutasie byna dubbel soveel van die hoëvetkerrie verorber het as deelnemers sonder dié geen.

Die goeie nuus is draers van hierdie geen is nie noodwendig so lief vir suiker soos vir vet nie.

Toe die eksperiment herhaal is met ’n nagereg wat uit koekies, room en aarbeie bestaan, het die geendraers spesifiek meer van die nagereg met die minste suiker in geëet.

“Die meerderheid mense eet kos wat hoog is in vet en suiker, maar deur versigtig die voedingswaarde van verskillende kos te toets, kan ons wys jou brein kan paadjies skep wat jou kosvoorkeure vorm,” het prof. Sadaf Farooqi van die Cambridge Universiteit se Wellcome Trust-navorsingsinstituut vir metaboliese wetenskap gesê.

Bronne: Nature Communications, The Telegraph, Popular Science.