WAAR

Jy was die natuurlike olies uit jou hare as jy dit gereeld was.

Ja, maar dit sal nie noodwendig skade aanrig nie. Dis nie eintlik verkeerd om jou hare elke dag te was nie, maar dit laat die vetkliere oortyd werk en skep meer olie wat jy sal wil uitwas. Spaar jou die moeite en was jou hare minder gereeld. Luna, die hoofstilis van VO5, sê: “As jy jou hare elke dag was, kan jy dit van natuurlike olies stroop, maar dit hang af watter sjampoe en opknapper jy gebruik.” Gebruik sjampoe met ligte formules wat jou hare bevogtig, behandel en voed.

VALS

Jou hare groei vinniger as jy dit gereeld laat knip

Dit verhinder wel dat die spleet verder teen die haarskag opbeweeg en die skade vererger. “Om jou hare gereeld te knip kan die illusie skep dat jou hare langer is,” sê Luna. Dis omdat dit gesond sal lyk en voel en ook omdat al die flenterige punte en fyn, beskadigde hare afgeknip is tot op die punt waar die hare dik en vol is.”

VALS

Sjokolade gee ’n mens puisies.

Sjokolade veroorsaak nie aknee nie, maar kan dit vererger. Te veel vetterige kos, kitskos ingesluit, kan gifstowwe in die vel verhoog en puisies veroorsaak. Verfynde suiker en te veel suiker tree baie soos suiwel op. Dit veroorsaak mettertyd ontsteking in die vel en vererger puisies. Hou dus matigheid voor oë.

VALS

Skoonheidslaap is ’n mite.

Wanneer ons rus, vernuwe al ons liggaamstelsels, die vel ook. Geen skoonheidsproduk kan die voordele van ’n goeie nagrus naboots nie. Jou vel sal ook beter lyk wanneer jou lyf uitgerus is. Tina Schöltz, ’n velsorg-en-gesondheidskenner aan die Potchefstoom Academy, sê ’n gebrek aan slaap wys nes stres op jou vel. Verskillende prosesse vind snags en bedags in die vel plaas. Bedags beskerm die vel hom teen vrye radikale en UV-strale en snags herstel dit skade wat deur die dag aangerig is.

WAAR

’n Mens kry plooie van jou oë vryf.

Ja, sê Tina. Die uitwerking van die vrywery op die dun, delikate vel om jou oë, is dalk nie in jou jong dae sigbaar nie, maar sal later in jou lewe duidelik word. “Tik altyd oogprodukte met jou ringvinger, die swakste vinger, aan die vel om jou oë.”