Jy bedoel dit miskien goed, maar dalk kan daardie ongevraagde raad of hulp wat jy ’n gestremde gee hom of haar net grensloos irriteer. Let op die volgende:

1. Vra eer jy hulp aanbied

Dit lyk soms asof ’n gestremde sukkel om sekere take te verrig, maar gewoonlik kan hulle heel goed op hul eie klaarkom en is hulle nie van jou afhanklik nie. As jy twyfel, vra eers of jy met iets kan help.

2. Kyk my in die oë

Soms help ’n tolk of verpleegster iemand met ’n spraak- en/of gehoorprobleem. Wanneer jy met so iemand praat, kyk hom of haar in die oë en nie vir die helper nie. Dink net hoe vernederend dit vir jou sal wees as iemand met jou praat, maar na iemand anders kyk?

3. Moenie maak asof ek ’n kind is nie

Wanneer jy met iemand in ’n rolstoel gesels, gaan sit by hom sodat jul oë op dieselfde hoogte is. Moenie gebukkend vooroor staan asof jy met ’n kind praat of jou stemtoon verander en harder of stadiger praat nie.

Net omdat iemand in ’n rolstoel sit, beteken dit nie hy of sy sukkel om jou te hoor nie. Mense fouteer ook dikwels deur aan te neem hulle weet wat die gestremde wil hê, hoe hy of sy voel of wat die beste vir hom of haar is. Vra reguit; moenie aanneem nie.

4. Moenie my dokter of geloofsgeneser probeer wees nie

Jy is nie ’n kenner wat in die spesifieke gestremde se toestand spesialiseer nie; hou dus liewer jou raad vir hoofpyne, lyfsere, stywe bene, ens. vir jouself.

Jy bedoel dit dalk goed om so iemand aan te raai om sekere oefeninge te doen, byvoorbeeld joga, maar jy is nie hul dokter of terapeut wat hul mediese geskiedenis en toestand ken nie.

En hou ook maar jou mening vir jouself dat die gestremde dalk “genees” kan word deur ’n nuwe “mediese deurbraak”. Of, as hulle sy dalk meer geloof gehad het, hulle lankal gesond sou gewees het.

5. Moenie my bejammer nie

Om ’n gestremde te bejammer laat hulle minderwaardig voel, want dit skets ’n prentjie van iemand wat net sukkel. Dit minag hul menswees, talente en prestasies.

Ander stories op Huisgenoot.com:

Dis hoe lank kenners meen jy moet verslank om die vetjies vir goed weg te hou

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Tob jy te veel? Slaan dié gewoonte gou-gou hok

Pienk v. blou: Dié kleurfeite gaan sekere gevestigde tradisies op hul kop keer