Ten eerste sal dit jou energieker laat voel. As jou bloed in jou are begin bruis en die endorfiene vrygestel word, sal jy gereed wees vir die dag en baie beter ingestel wees op die take wat voorlê. Dit beteken ook die moeilike deel is uit die weggeruim; die aand kan dus gewy word aan pret en ontspanning. Hoe moet jy te werk gaan om ’n oggend-oefensessie deel van jou dag se roetine te maak?

  1. Maak dit onvermydelik Maak seker jou hele dag is gevul met klein aanmaninkies. Skryf dit in jou dagboek, plaas ’n kennisgewing op jou selfoon en vertel soveel mense moontlik dis ’n gimnastiekoggend. As dit deel van jou dag word, sal dit jou brein oortuig dat jy nie daar gaan uitkom nie; dit moet gedoen word.
  2. Wees voorbereid Niks is so sleg soos om soggens jou drafskoene of sportbra te soek nie. Sit eerder alles die vorige aand reg, selfs die waterbottel. So kan jy letterlik uit die bed rol, jou sak gryp en verkas!
  3. Beloon jouself Begin jou oggend in die gimnasium met iets waarvan jy baie hou. As jy die trapmeul baasgeraak het, kry ’n lekker wegneemkoffie by jou gunstelingkafee. Of, as jy dit drie keer per week regkry, beloof jouself daardie boek wat jy al hoe lank graag wil lees. Moet jou net nie vergryp aan enigiets wat baie kilojoules bevat nie; dit sal beslis al jou harde werk ongedaan maak!
  4. Vat dit kalm En hier praat ons nie van jou oefensessie nie! Maak jou lewe op enige ander manier so maklik moontlik. Kies ’n klas by ’n gimnasium net om die hoek of gaan draf in ’n park net vyf minute van jou huis af. As jy nie naby een van hierdie opsies bly nie, kry ’n DVD met oefeninge daarop en oefen in jou sitkamer. Probeer ook die aand voor die oggend-oefensessie vroeg in die bed kom; jy sal eenvoudig nie goed presteer ná minder as sewe uur se slaap nie.
  5. Moenie mense in die steek laat nie Probeer ’n bietjie sagte, welmenende emosionele afpersing op jouself toepas. Vind ’n draf- of gimnastiekmaat wat ’n tipiese oggendmens is en reël dat julle vir ’n sessie bymekaarkom. Die gedagte dat jy iemand in die steek gaan laat as jy nie opdaag nie, kan as sterk motivering dien. Bespreek ook jou oggendklasse vroegtydig. Baie van die gimnasiums frons as jy nie opdaag nie en hulle kan jou selfs beboet – hoe’s daai vir tawwe liefde!

© Cover Media