Hier is vyf redes hoekom jy daarvan moet wegbly:

[caption id="attachment_86372" align="aligncenter" width="600"]Drank is gevaarlik en kan heelwat meer kwaad as goed doen. Drank is gevaarlik en kan heelwat meer kwaad as goed doen.[/caption]

1. Drank kan jou brein beskadig

Tieners wat selfs net een keer per week drink, kan onherstelbare breinskade opdoen, want hul brein is nog aan die ontwikkel. Die kort- en langtermyngevolge van drankmisbruik sluit in dat jy sukkel om moeilike take te voltooi en om inligting te verwerk en besluite te neem. Drank kan jou geheue aantas, lewerskade aanrig en dit kan die belangrike hormoonbalans versteur wat nodig is vir die normale ontwikkeling van organe, spiere en bene.

2. Dis ONWETTIG vir minderjariges om te drink

Ja, dis dalk koel om op ’n partytjie aan ’n vrugtige alkoholiese drankie te teug, en selfs koeler as jy minderjarig is. Groepsdruk is  magtig, maar behoort nooit die rede te wees waarom jy dit doen nie. In Suid-Afrika is drankgebruik deur mens onder 18 verbode, en word jy betrap, kan jy jy diep in die moeilikheid beland. Dit kan selfs jou blink toekoms in die wiele ry.

 3. Jy kan daarsonder pret hê

Wanneer jy onder die invloed is, kan dit jou inhibisies verminder. So kan jy onverskillig optree en meer geneig wees om iets aan te vang wat jy gewoonlik glad nie sou doen nie. Jy en jou pelle kan pret hê sonder drank. Onthou jy nog hoe lekker was al jul partytjies voor mense begin drink het? Geen alkohol = geen moeilikheid, geen babelas en geen potensiële inhegtenisneming en misdaadrekord nie.

4. Jy kan dalk die aand vergeet

Jy kan breinfloutes kry wanneer jy te veel drink, en dan niks van die aand onthou nie. Dis algemener by tieners as volwassenes. Drankmisbruik is ’n groot probleem in Suid-Afrika. Die Mediese Navorsingsraad het bevind dat ’n kwart van tieners tussen 11 en 17 berig dat hulle al meer as 10 keer in hul lewe dronk was. Boonop misbruik sowat een uit vier hoërskoolleerders elke maand drank.

5. Jy gaan spyt wees

Behalwe dat jy lawwe dinge aanvang en jouself in die openbaar kan verneder, kan drank tot jou dood lei. Jy kan doodgaan van akute alkoholvergiftiging. Dis wanneer die drank die senuwees onderdruk wat jou onwillekeurige aksies soos asemhaal en jou braakrefleks beheer. En daardie dronkfoto’s van jou wat jy of ’n maat op Facebook deel, kan jou in groot moeilikheid by die skool en die polisie laat beland. Jy kan ook dalk stry kry met ’n pel, onbeskermde seks hê of iemand se eiendom beskadig wanneer jy dronk is.

Dink voor jy alkohol na ’n partytjie bring en onthou dis onwettig en gevaarlik vir tieners om te drink. Sien om na jou eie veiligheid en gesondheid.

- Megan Bursey