Daar is ’n paar dinge wat ons oor ons liggame geleer is wat heeltemal verkeerd is en nou is daar wetenskaplike bewyse wat die ouvroustories die nek inslaan. Hier is vyf mites oor ons liggaam wat intussen verkeerd bewys is:

1) Ons het vyf sintuie

Ons almal onthou hoe ons geleer het ons het vyf sintuie: sig, reuk, gehoor, smaak en aanraking. Dis egter verkeerd en dateer terug na die Griekse filosoof Aristoteles. Selfs die idee van ’n “sesde” sintuig wat soms voorkom wanneer mense “dooie mense kan sien”, is nie wetenskaplik moontlik nie.

Moderne wetenskaplikes reken die mens het dalk soveel as 20 sintuie, en party daarvan sluit in:

Termosepsie – die vermoë om hitte en koue aan te voel.

Propriosepsie– die vermoë om te weet waar jou liggaamsdele is in verhouding tot ander liggaamsdele. As die polisie jou dus aftrek vir dronkbestuur en sê jy moet jou oë toemaak en aan jou neus raak, toets hulle basies of daardie sintuig aangetas is.

Ekwilibriosepsie – die vermoë om jou balans te hou en jou liggaamsbeweging aan te voel. Die sensoriese stelsel hiervoor is in jou binneoor. Toe jy jou as kind in die rondte gedraai het, of as jy dit in jou kantoorstoel as volwassene doen, is dit daardie gevoel dat die wêreld om jou nog draai nadat jy gestop het – dit is danksy hierdie sintuig.

Tyd – Dit klink redelik voor die hand liggend, maar dis die moeilikste een om vas te pen. Ons almal hou tyd, deur die son, maan, die horlosiewysers en erosie (oor ’n lang tydperk), maar wetenskaplikes sukkel om te verduidelik presies wat tyd is. Wat ons wel weet, is dat mense tydsverloop kan aanvoel. En dit raak nog ingewikkelder wanneer Albert Einstein se relatiwiteitsteorie betrokke is wat sê mense ervaar tyd verskillend.

2) Ons het net vier smake

Daardie kaart van die tong wat wys watter dele van die tong spesifieke smaakknoppies het, is verkeerd. So ook die idee dat die tong net soet, suur, sout en bitter kan proe. Wetenskaplikes het ’n paar jaar gelede ’n vyfde smaak erken, wat umami genoem word. Ons tong het reseptors vir dié vyfde soutsmaak. En wetenskaplikes aan die Purdue-universiteit in Amerika het in Julie aangekondig hulle het reseptors op mense se tong gevind vir ’n sesde smaak genaamd oleogustus, oftewel die vermoë om vet te proe.

3) ’n Mens gebruik slegs 10 persent breinkrag

’n Mite wat deur rolprente voortgesit word, is dat die mens slegs 10 persent van sy breinkrag gebruik en dat die moontlikheid bestaan om bomenslike intelligensie te bereik deur die ander 90 persent te aktiveer. Maar volgens skanderings is die meeste dele van die brein aktief, en selfs wanneer ons slaap, is die brein steeds aktief, maar net in ’n ander toestand.

Selfs ligte breinskade kan rampspoedige gevolge hê, wat bewys die hele brein is belangrik. Maar as die 10-persent-teorie geglo kan word, beteken dit jy kan groot dele van iemand se brein verwyder sonder dat daar ’n merkbare verskil is.

Die idee dat ’n spesiale pil of middel al die brein se vermoëns kan ontsluit, klink dalk na die antwoord op ons nagmerries met matriekwiskunde-eksamens of die groot hoop werk op jou lessenaar, maar al wat oorbly is dat ons hard moet studeer of werk.

4) Jy gaan siek word as jy met nat hare of sonder baadjie uitgaan

Ons almal onthou dié een uit ons kinderjare, maar die waarheid is dat nat hare of om sonder ’n baadjie uit te gaan jou nie gaan siek maak nie. Koue weer maak dit wel moeiliker vir die liggaam om teen ’n infeksie te baklei wat dalk reeds broei, of waarmee jy in kontak kom, maar die werklikheid is dat verkoue en griep veroorsaak word as jy met virusse in aanraking kom.

5) Suiker maak kinders hiperaktief

Party ouers gaan dalk hul oë hiervoor rol, maar daar is geen wetenskaplike verband tussen jou ooraktiewe kind en die hoop lekkers wat hulle geëet het nie. In navorsing wat in 1995 in die publikasie The Journal of the American Medical Association verskyn het waarin 23 ander studies oor die invloed van suiker op kinders bestudeer is, is bevind “suiker beïnvloed nie kinders se gedrag of kognitiewe prestasie nie”.

Ouers se sterk oortuigings dat dit kinders hiperaktief maak, “kan dalk weens verwagting en algemene assosasie wees”.

Die navorsers het egter gesê hulle kan nie die moontlikheid uitsluit dat suiker sekere kinders beïnvloed nie. Die moontlikheid bestaan dat ouers wat verwag suiker gaan hul kinders hiperaktief maak, dit dan outomaties in die kind se gedrag sal sien of dit kan veroorsaak dat die kind hiperaktief raak wanneer hulle suiker inkry.

News24