Deur prof. Elmarie Terblanche

’n Paar maklike aanpassings tot jou eetgewoontes kan jou gesondheid beduidend verbeter

1: Breek die vas en laat waai die kilogramme

Met wetenskaplike navorsing word voortdurend bevind diegene wat ontbyt eet, het gedurende die dag minder probleme met voedseldrange. Hulle konsentreer ook beter en kan ’n gesonde gewig handhaaf. As jy nie vroeg soggens kan eet nie, neem jou ontbyt saam werk toe en eet dit voor 10:00.

2: Klop die drange

Wanneer jy koolhidrate inneem, en veral soggens op ’n leë maag, sal jou bloedsuikervlakke opskiet en binne twee uur daarna beduidend val. Dit sal jou sleg, slaperig en weer honger laat voel. Laai jou ontbyt eerder met proteïen en vesel. Dit sal nie net die suikerstyging voorkom nie, dit sal jou ook langer versadig laat voel.

3: Wag voor jou tweede skeppie

Dit neem ’n rukkie voor jou brein besef daar is kos in jou maag en dat jy nie meer honger is nie, so wag eers ’n paar minute voor jy ’n tweede keer kos inskep.

4: Eet ontbyt soos ’n koning, middagete soos ’n prins en aandete soos ’n arme

Dis nie dat jou voedsel saans op ’n ander manier metaboliseer nie, die probleem ontstaan omdat ons geneig is om saans groter porsies te eet. Navorsing toon om laat in die dag te eet is minder bevredigend as om dieselfde hoeveelheid kos vroeër in die dag te eet. Die kos en lekkernye wat ons saans eet, is dikwels ook hoog in vet en kalorieë.

5: Maak soos die Franse – geniet elke happie

Al ooit gewonder hoekom die Franse so goed lyk? Ten spyte van hul gesonde inname van brood, kaas en wyn, tel hulle onder die min lande waar minder as 10 persent van die bevolking vetsugtig is. Hoe kry hulle dit reg? In Frankryk is elke maaltyd ’n geleentheid; mense sit saam met vriende en familie by pragtig gedekte tafels aan om ’n rustige maaltyd te geniet. Onmoontlik in jou daaglikse roetine? Maak ten minste die reël dat jy nie eet as jy nie aan tafel sit nie. Dus geen etery in die motor, terwyl jy by die kombuistoonbank staan, of agter jou kantoorlessenaar nie. Neem ’n blaaskans, haal asem en dink aan die maaltyd wat jy eet.

Prof. Elmarie Terblanche is die voorsitter van die departement van sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Sy stel in praktiese navorsing belang en ondersoek vrae wat van belang is vir atlete van alle vlakke. Elmarie publiseer in nasionaal en internasionaal geakkrediteerde wetenskaplike joernale en het tans ’n C3-evaluering van die Nasionale Navorsingstigting.