Dis swaar om nie erg gefrustreerd te voel wanneer jou kind vol grond uit die tuin kom nie, want dit maak weer die bondel wasgoed meer.

Tog is nou ontdek vuil hande is die perfekte manier om jou kind se gesondheid en welstand te verbeter. Dr. Maya Shetreat-Klein het die boek The Dirt Cure: Growing Healthy Kids with Food Straight from Soil oor die onderwerp geskryf, waarin sy die nut van grond verduidelik.

Volgens Maya is die eerste voordeel dat “grond van goeie gehalte meer voedingstowwe in voedsel beteken”.  “Ons is wat ons eet,” het sy bygevoeg. “Ons eet plante (en diere wat plante eet), en plante word deur die son, water, lug en grond gevoed.

Lees ook: Nege uit 10 kleuters is nie aktief genoeg nie

“Studies het getoon dat organies gekweekte groente ryker is aan plantnutriënte, die grondstof van superkossoorte. Hierdie plantnutriënte – wat bosbessies rooi maak, suurlemoene geurig en blaargroentes bitter – maak ook kossoorte heerlik sowel as gesond vir ons kinders.”

Maya het ook die feit dat grond verbind word met die voorkoming van allergieë genoem en dit kan “kinders se spysvertering-, immuniteit- en senuweestelsel aansienlik versterk”.

’n Onlangse studie het die verstommende feit aan die lig gebring dat dit ook verband kan hou met die verbetering van geheue en fokus.

Meer as 2 600 kinders is bestudeer en dié wat meer tyd deurgebring het op speelterreine met natuurlike oppervlaktes, in teenstelling met turf of teer, het beter presteer op skool as dié wat nie die kans gehad het nie.

Grond kan ook jou bui verbeter en dis te danke aan die mikrobe Mycobacterium vaccae. Die uitwerking daarvan is soortgelyk aan dié van antidepressante, aangesien dit die serotonienvlakke in die liggaam verhoog. Dit verduidelik waarom jy moontlik gelukkiger voel in die tuin of op ’n staptog.

Net so kan die natuur en grond kinders help om die stres in hul lewe te verminder en maak dat hulle beter slaap.

Lees ook: Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

In Japan is die idee van woudbaddens – om jou in ’n omgewing met baie bome te begeef – ’n gewilde soort voorkomende medisyne, en dit is te danke aan hoe grond die vervaardiging van teenkankerproteïene in die liggaam kan verhoog.

Maya raai jou aan om jou kinders in die somer kaalvoet buite te laat rondhardloop of hulle aan te moedig om sowat 10 minute op die grond te sit.

Die rede hiervoor is dat die uitwerking van “gegrond” wees – letterlik in aanraking met die grond – bewys is as sou dit die vrye radikale van die liggaam neutraliseer, tot ’n afname in pyn en ontsteking lei, help om wonde vinniger te laat genees en jou gemoed ’n hupstoot te gee.

“Grond speel ’n yslike rol in die gesondheid en welstand van ons kinders,” som Maya op. “Die gesondheid van ons innerlike terrein, die inwendige omgewing van ons liggaam, weerspieël die gesondheidstoestand van ons uitwendige terrein, of die wêreld om ons.”

© Cover Media