Dis ’n wenk wat nogal voor die hand liggend is, maar ’n span navorsers het bewys daar steek dalk iets daarin! As jy die oormatige olie met handdoekpapier klad, kan dit jou 40,5 kalorieë of 4,5 g vet per sny spaar, volgens die navorsers by Labdoor. Om hul data (gebaseer op ’n medium pepperoni-pizza van Domino’s) maklik verstaanbaar te maak, het hulle infografika saamgestel waarin hulle bereken jy kan sowat 6 611 kalorieë (27 660 kilojoules) in ’n jaar spaar as jy, soos die gemiddelde Amerikaner, sowat 10 kg pizza in ’n jaar eet. Dit beteken sowat 1kg weg om jou middel. Goed, jy eet dalk nie soveel pizza nie, maar dit kan sekerlik nie skade doen om die oormatige olie weg te klad nie – die olie sal dan minstens nie op jou klere kan drup nie!

Bronne: Labdoor, The Mirror, Tech Insider