’n Miskraam is traumaties vir al die betrokkenes, veral vir die ma.

Die studie, waarvan die bevindings in die vaktydskrif Obstetrics & Gynaecology gepubliseer is, het 1 083 vroue betrek – baie van hulle het voor 20 weke ’n miskraam gehad en hulle het geen probleme, soos die groei van abnormale fetale weefsel in die baarmoeder, tydens die swangerskap ervaar nie.

Lees ook: Meer sibbes = gedragsprobleme?

Die vroue is oor ses menstruele siklusse bestudeer, en hulle was deel van ’n groot proefneming wat in 2007 begin en in 2011 geëindig het. Dié wat in daardie tyd swanger geword het, is gevolg tot die uitkoms van hul swangerskap bevestig is.

Meer as driekwart van die vroue het probeer om weer binne drie maande ná hul miskraam swanger te raak, en vergeleke met die vroue wat langer gewag het, was die moontlikheid groter vir die vroue wat dadelik weer probeer het: byna 70 persent van die vroue wat probeer het, het dit reggekry, in vergelyking met 51 persent van die vroue wat langer gewag het.

Ook het meer as die helfte van dié wat nie gewag het nie, aan lewende babas die lewe geskenk, en wat komplikasies betref, was daar geen verskil tussen die twee groepe nie.

“Aanbevelings dat paartjies wat sielkundig gereed is om weer te begin probeer, dit minstens drie tot ses maande uitstel, kan moontlik ongegrond wees en dit behoort hersien te word,” het die skrywers van die studiestuk opgemerk.

Lees ook: Laat selfsug oorneem volgende keer as jy siek is

“Hoewel emosionele gereedheid, in teenstelling met liggaamlike gereedheid, moontlik volgens die individuele paartjie bepaal moet word, is in vorige navorsing bevind dat ’n spoedige nuwe swangerskap, en die geboorte van ’n lewende kind, die smart versag van ouers wat ’n baba verloor het.”

Die bevindings is wel interessant, maar dis moontlik nie heeltemal juis nie, aangesien vroue self hul toestand aangemeld het, en dit beteken dat die datums moontlik nie heeltemal akkuraat is nie.

© Cover Media