Die Amerikaanse Akademie van Pediatrie het sy standpunt oor swanger vroue en alkohol hernieu. Leiding oor die jare was egter verwarrend en baie mense het gereken ’n klein bietjie drank sou nie die ongebore baba skaad nie.

Oormatige drankinname tydens swangerskap is al gekoppel aan enigiets van misvorming van die gesig, soos ’n dun bolip en klein ogies, tot ernstige gedragsprobleme soos aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring, belemmerde geheuevaardighede en sukkel met probleemoplossing. Al die simptome bymekaar staan bekend as fetale alkoholspektrumsteurings (waarvan fetale alkoholsindroom die ergste is).

“Die werklike maatstaf (om veilig te wees wat alkoholgebruik betref) is hoeveel van ’n kompromis jy gewillig is om aan te gaan wanneer dit kom by die gesondheid en welsyn van jou baba,” het dr. Janet Williams, wat die navorsing gelei het, geskryf.

Die navorsingstuk verskyn in die nuutste uitgawe van die tydskrif Pediatrics en daarin word van die standpunt uitgegaan dat daar geen veilige vlak van drink tydens swangerskap is nie. Hierdie grys area is waarom dit belangrik is dat jy geen alkohol moet inneem nie.

Daar word geraam dat een uit elke 10 swanger vroue drink en dit word gedefinieer deur een alkoholiese drankie in 30 dae en een keer se misbruik in 33 dae. Die sektor waarin drink tydens swangerskap die meeste voorkom, is middeljarige vroue met tersiêre opleiding.

Drankmisbruik word beskou as die gevaarlikste vir ongebore babas, maar dit is nie bekend hoeveel alkohol as veilig of onveilig beskou kan word nie, dus reken die kundiges dit is beter om dit eenvoudig uit te los.

“Daar is ’n effense omstredenheid rondom hierdie hele aangeleentheid,” het dr. Christina Chambers, professor in pediatrie, opgemerk. “Vroue hou nie daarvan om aangesê te word om alkohol heeltemal uit te skakel nie. Hulle vra: ‘Wat is die bewyse dat lae vlakke van alkohol skadelik is?’ En: ‘Jy beveel my net om dit nie te doen nie en dat nie te doen nie,’ en sommige verloskundiges voel heel gemaklik daaroor dat swanger vroue lae vlakke van alkohol inneem.

“Ons weet eenvoudig nie tot watter mate dit veilig is om te drink nie en dit is nie raadsaam om ’n syfer te probeer kies nie.”

© Cover Media