’n Nuwe jaar, ’n nuwe jy – watter slegte gewoontes gaan jy in 2015 afskud? As dit jou rookgewoonte is, haal ons die hoed vir jou af!

Dis moeilik om selfs net te besluit om op te hou, en daarna raak dit nog moeliker wanneer jy moet deurdruk. Maar daar is dalk nuwe navorsing wat kan help – wetenskaplike sê vroue kan daarby baat om kort voor hul maandstonde op te hou rook. Die mid-luteale fase is die deel van jou siklus wat kort voor menstruasie begin en ná ovulasie plaasvind. Dit is dalk ’n tyd wanneer jy fisiek en emosioneel veral sensitief voel, maar dis ook die ideale tyd om jou rookgewoonte af te skud, volgens data wat navorsers aan die Universiteit van Montreal versamel het. Oor die algemeen kan die menstruele siklus ’n rede wees hoekom vroue meer sukkel as mans om op te hou rook en die follikulêre fase (wat kort ná jou maandstonde begin) is die moeilikste tyd om sigarette te weerstaan.

'Wetenskaplike sê vroue kan daarby baat om kort voor hul maandstonde op te hou rook.'

Prof. Adrianna Mendrek het die studie, wat in die Psychiatry-joernaal gepubliseer is, gedoen. Sy het 34 mans en vroue wat meer as 15 sigarette per dag gerook het bestudeer. Deelnemers moes vraelyste invul en MRI-breinskanderings ondergaan terwyl hulle na neutrale prentjies asook prente wat ontwerp is om die lus vir ’n sigaret aan te wakker gekyk het.

Die vroue se estrogeen- en progesteroonvlakke is aangeteken en hulle het twee keer, op verskillende stadiums van hul siklus, skanderings ondergaan. “Om die menstruele siklus in ag te neem, kan vroue help om op te hou rook,” sê Adrianna.

“Ons data dui daarop dat onbeheerbare drange om te rook sterker is aan die begin van die follikulêre fase wat ná menstruasie begin. Hormonale dalings van estrogeen en progesteroon kan moontlik die ontrekkingsindroom vererger en lei tot verhoogde aktiwiteite van neurale bane wat met die drange verbind word.”

Verdere navorsing is egter nodig voor die biologiese impak van ophou rook ten volle verstaan kan word. Maar vir eers kan dit die moeite werd wees vir vroue om hul menstruele siklus in ag te neem en om op te hou rook net voor hul maandstonde begin.

© Cover Media