Dis deesdae algemeen om later as jou ma of ouma met ’n gesin te begin, aangesien meer vroue studeer nadat hulle die skool verlaat het en dan met ’n loopbaan begin voordat hulle besluit om kinders te hê.

Hoewel sommige mense neersien op vroue wat hul loopbaan voorop stel, het onlangse navorsing bevind dit kan ’n voordelige uitwerking op jou lewensverwagting hê as jy effens later kinders kry.

Navorsers aan die Universiteit van Coimbra in Portugal het inligting oor geboortes en lewensverwagting van al die nasies in die Europese Unie ondersoek.

Hulle het bevind vroue wat later kinders gehad het, leef gewoonlik langer as dié wat in hul tienerjare en 20’s die lewe geskenk het. 

Die skrywers het die resultate in die Journal of Public Health gepubliseer en hulle het opgemerk dat genetika die oorsaak was van verhoogde lewensverwagting.

“Tesame met die ouderdomsverhoging in swangerskap, styg die lewensverwagting van 65-jarige vroue ook. Met ander woorde, hoe ouer vroue is wanneer hulle lewe skenk, hoe langer leef hulle,” was die wetenskaplikes se bevinding.

“Vroue wat later in die lewe babas in die wêreld gebring het, is geneig om langer te lewe, en die gene wat verband hou met laat swangerskap, bevoordeel die lewensduur van vroue.”

Die studie volg kort op die hakke van ’n onlangse waarskuwing deur dokters dat mans in die Westerse Wêreld voor ’n “vrugbaarheidstydbom” te staan gaan kom. Dít is omdat daar ’n verlaging in die spermtelling is van mans in Noord-Amerika, Europa, Australië en Nieu-Seeland.

Chemikalieë in die omgewing kry die skuld vir dié afname. Kenners sê ’n verlaging in spermtelling, tesame met die neiging van vroue om swangerskap uit te stel, kan ’n dubbele terugslag wees vir vrugbaarheidsyfers, aangesien die gehalte en getal van vroue se eierselle daal soos hulle ouer word.