Vroue voel angstiger as mans, toon ’n nuwe ondersoek.

Deesdae verklaar baie vroue hulle “het alles”; hulle verdeel hul tyd suksesvol tussen ’n loopbaan en ’n gesin en hoef nie meer tussen die twee te kies nie. Maar wetenskaplikes van die Universiteit van Cambridge in Brittanje het bevind vroue het ’n dubbel so groot kans as mans om aan stres en angs te ly.

Die span het tot hierdie gevolgtrekking gekom nadat hulle data vergelyk het van 48 vorige ondersoeke wat op die toestand gefokus het.

Hulle het ook bevind mense van albei geslagte jonger as 35 jaar het ’n groter kans om angs te ervaar as ouer mense.

“Baie navorsing is al oor depressie gedoen en baie klem daarop geplaas, maar dit en angstigheid is ewe belangrike steurings,” sê Olivia Remes, samesteller van die ondersoek. “Angs kan ook tot gestremdheid en beperking lei en die risiko vir selfdood verhoog.”

Die navorsing is in die joernaal Brain and Behaviour gepubliseer. Die wetenskaplikes van Cambridge het neigings in angstigheid geïdentifiseer en verken in groepe mense, onder meer dié met chroniese siektes, dobbelaars en swanger vroue. Duidelike patrone het tydens die navorsing aan die lig gekom.

Vroue en mense jonger as 35 het ’n hoër risiko om angs te ervaar. En mense wat aan ’n chroniese siekte ly, het ’n groter kans om angs te ervaar as mense wat gesond is.

“Dit kan wees dat die medisyne vir sekere siektes angstigheid kan laat ontstaan; dit kan ook wees dat die siekte self die angstigheid kan laat ontstaan of dat mense met angstigheid ’n groter kans het om inflammasie in hul liggaam te ervaar – en die inflammasie kan dan later fisieke siektes laat ontstaan,” bespiegel Olivia.

Die bevindinge het ook getoon ’n angssteuring is by sowat 4 persent van die wêreldbevolking gediagnoseer, maar die werklike getal ongediagnoseerde lyers is waarskynlik hoër.

© Cover Media

Ander stories op Huisgenoot

Die redes waarom jy dadelik meer blomkool moet inkry

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?

Hier is die geheim om gewig meer effektief af te skud en boonop af te hou