Wanneer sy aan werk dink, pak ’n oorweldigende vrees haar beet. Haar hart klop vinnig, handpalms begin oordadig sweet en sy voel lighoofdig.

[caption id="attachment_119418" align="alignnone" width="600"]Lorna Liebenberg van Port Elizabeth ly aan ergofobie, die “verlammende vrees vir werk, base, kollegas en die werkplek”. Foto: Verskaf Lorna Liebenberg van Port Elizabeth ly aan ergofobie, die “verlammende vrees vir werk, base, kollegas en die werkplek”. Foto: Verskaf[/caption]

Lorna Liebenberg van Port Elizabeth ly aan ergofobie, die “verlammende vrees vir werk, base, kollegas en die werkplek”. “Ek het nog altyd ergofobie gehad, maar dit was nie altyd so erg nie,” vertel sy aan Huisgenoot.

Lees ook: Top tien vreemdste fobies

Nadat sy haarself gediagnoseer het, het sy ’n sielkundige en psigiater genader wat die fobie bevestig het. “Ek het op 18 besluit om verder te studeer omdat die blote gedagte aan die werkwêreld skrikwekkend was.”

Maar die tyd het eindelik aangebreek dat sy die werksmag moes betree. “Ek het ’n paar jaar vir goeie base gewerk wat soos pa’s vir my was.”

Toe word sy in 1999 afgedank en “ruk die vrees handuit. Ek is in daardie tyd in en uit by 15 werke. Die nuwigheid van ’n nuwe maatskappy, baas, ensovoorts was uiters vreesaanjaend.”

En meer as ’n dekade later sukkel Lorna (53) steeds met verhoogde angstigheid in die werkplek. Die gevolg is dat die toestand “groot geldelike probleme” veroorsaak het. “Ek het nie ’n pensioen nie.”

Sy maak staat op haar ma en neef om haar geldelik te ondersteun. “Dit plaas baie druk op hulle. As dinge moeilik raak, weet ek hoe dit voel om honger te ly.”

Behalwe dat sy help met daaglikse noodsaaklikhede, is Lorna se ma haar emosionele steunpilaar. “My ma probeer positiewe gedagtes by my inboesem, sonder enige resultate.”

Lorna is desperaat vir ’n oplossing en het haar tot hipnose, gebed en psigoterapie gewend. “Ek het by ’n sielkundige aangeklop, maar dit help nie. Niks werk nie. Ek sou so bly wees as iemand daar buite ’n oplossing het.”

Wat is ergofobie?

Fobies word in twee kategorieë geklassifiseer, spesifieke fobies en agorafobie, sê die kliniese sielkundige Larissa Ernst.

“Ergofobie is ’n spesifieke fobie omdat dit die vrees is vir ’n spesifieke voorwerp/sosiale situasie (die werkplek) wat dadelik tot angstigheid en soms tot paniekaanvalle lei.”

Sy sê die fobie is ’n “irrasionele, intense en volgehoue vrees vir sekere situasies, aktiwiteite, dinge of mense.”

Die gevolg is dat die mens se funksionering op emosionele en fisieke vlak geraak word, wat dus lei tot vermydingsgedrag.

Die simptome:

Ergofobie word gekenmerk deur ’n vrees vir werk, sê Larissa.

“Hierdie vrees is aanhoudend en lei tot simptome van angstigheid, soos hartkloppings, moeilike asemhaling, borspyn, gevoelloosheid/tinteling, droë mond, duiseligheid, oormatige sweet, naarheid, wat kan vererger tot ’n volwaardige paniekaanval.”

Lees ook: Vrees vir Vrydag die 13de so oud soos die berge

Sy sê die vrees is meestal gekoppel aan prestasieverwante kwessies. Die individu kan byvoorbeeld vrees dat sy sal misluk met ’n sekere taak en verbale voorleggings en die onvermoë om spertye te haal vrees. Die vrees kan ook gekoppel word aan interpersoonlike kwessies, soos ’n gesukkel om met kollegas sosiaal te verkeer, konflik te hanteer en met die baas te werk.

“Die erns van die simptome neem toe as die individu aktief die stimilus (sneller) vermy omdat die werkplek of presiese oorsaak nie onbepaald vermy kan word nie,” sê Larissa. “Dit vererger die simptome omdat dit ’n gekondisioneerde respons skep (die verligting wat vermyding bring, verhoog die vrees van terugkeer en maak dit onmoontlik).”

As jy agterkom dat jy van die simptome ervaar, beteken dit nie noodwendig jy ly aan egrofobie nie. “Die meeste mense ervaar die een of ander vorm van werkverwante angs van tyd tot tyd,” sê Larissa en voeg by paniekaanvalle weens werkverwante angs is redelik algemeen.

Die erns van die simptome sou bepaal of iemand aan die toestand ly.

Behandeling:

Die eerste stap in die behandeling van ergofobie is om ’n klinikus te vind wat die presiese probleem akkuraat kan definieer, sê Larissa.

“Die definisie van die probleem is meer kompleks as ‘angstigheid by die werkplek of ergofobie’. Die presiese veranderlike wat ’n bepaalde mens se simptome bepaal, verskil van mens tot mens en moet geïdentifiseer word.

“Sommige individue sou byvoorbeeld sistematiese desensitisering benodig om prestasie-angs te verlig, en ander kan weer baat vind by konflikoplossingstrategieë. Ander benodig weer opleiding in selfgelding of daar moet aan hul selfbeeld gewerk word.”

Die kliniese sielkundige voeg by een van die belangrikste stappe in die behandeling “is dat vermydingsgedrag en selfafsondering teengewerk moet word deur die mens te bemagtig om meer aktief beheer oor hul lewe te neem”.

“Die beste terapeutiese behandelings is bewysgegronde en integrerende, stelselgegronde terapie (interaksionele psigoterapie wat kognitiewe gedragsterapie integreer met interpersoonlike kommunikasieteorie en ’n stelselbenadering), kognitiewe gedragsterapie en kliniese hipnose.”

Lees ook: Van ‘plasentadrankies’ tot kriekmeel: Dié is die vreemdste kosgiere waarvan jy moet weet

Maar wat van Lorna wat hipnose en psigoterapie probeer het? Is daar enige hoop vir haar?

“Daar is beslis hoop vir haar,” sê Larissa.

"As sy konvensionele terapie probeer het, moet sy ’n terapeut soek met ’n holistiese en integrerende benadering wat die kompleksiteit van haar uitdaging en die rede hoekom vorige terapie onsuksesvol was, kan ontrafel.

“Daar is verskeie redes hoekom terapie soms nie werk nie – op dieselfde manier wat aanvanklike mediese behandeling ook nie altyd onmiddellik suksesvol is nie.”

– Samantha Luiz

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.

Lees ook op Huisgenoot.com:

‘Net met die Here se hulp en gebede sal hy dit finaal oorwin’ sê sesjarige kankerlyer se ma

Van ‘plasentadrankies’ tot kriekmeel: Dié is die vreemdste kosgiere waarvan jy moet weet

Vroue steeds verleë oor nabehoedpil

’n Koppie tee per dag kan die hart gesond hou

Weer beroertes af met hierdie kos