Amper onwillekeurig keer die genadelose gespot van kinders oor haar gewig terug na haar gedagtes toe sy deur foto’s van daardie jare kyk.

[caption id="attachment_119975" align="alignnone" width="600"]'n Rietskraal Tarien wys hoe haar lyf getransformeer het. Foto: Dino Codevilla 'n Rietskraal Tarien wys hoe haar lyf getransformeer het. Foto: Dino Codevilla[/caption]

“Jy het seker ’n siekte,” was van die wrede woorde wat sy gereeld van medeleerders moes hoor.

Tarien Fourie (27) weet sy was vet. Reeds as ’n skattige baba was sy meer as net mollig. Haar ma het al vertel hoe sy as baba kon aanhou en aanhou melk drink. “Ek het Tarien tot op twee en ’n half jaar geborsvoed,” sê haar ma, Annatjie Otto. “Dit het baie gou duidelik geword dat sy altyd honger is. In so ’n mate dat ek besef het as ek enigsins slaap wou inkry, ek by haar op ’n dubbelbed sou moes slaap,” sê sy.

Deur haar skoolloopbaan kon haar ewige honger net nie gestil word nie. Sy sou ’n stewige ontbyt van spek, eiers en roosterbrood baasraak, later by die snoepie ’n draai maak en smiddae ses snye brood wegpak. Pizza en buffet-etes was haar dood. “Ek sou net eet en eet en eet.” Saans sou sy gereeld ’n tweede keer kos inskep.

Lees ook: Vrou swanger met vyfling eet 6 000 kalorieë per dag – en VERLOOR gewig!

Sy was nege jaar oud toe sy die eerste keer ’n dieet volg en in die jare daarna het dieet op dieet gevolg. Annatjie het duisende rande aan diëte bestee en buiten dieetkos het Tarien alles probeer – van eetlusdempers tot inspuitings en aanvullings. Niks het ’n blywende uitwerking gehad nie. “Ek sou die gewig verloor, maar net weer aansit. Sy het eenkeer amper 30 kg verloor, maar later weer 40 kg aangesit.”

Toe sy omtrent 12 jaar oud was en die kilogramme steeds klim, het haar ma haar na die gesin se huisdokter geneem. Nadat bloedtoetse niks abnormaals getoon het nie, het die dokter genoem Tarien kan moontlik ’n leptientekort hê. Leptien is die hormoon wat jou brein laat weet jy is versadig. Om haar te stuur vir toetse om dit te bevestig, was egter duur en die gesin het nie ’n mediese fonds gehad nie. Tarien glo sy het die tekort en dit het tot haar jarelange gewigstryd bygedra.

Die dokter het voorgestel sy eet kleiner porsies, maar dit was ’n moeilike mikpunt vir ’n kind wat alewig honger was. “Jy raak obsessief oor kos. Van die oomblik dat jy soggens wakker word, is dit al waaraan jy dink.”

Haar gewigsprobleem het haar selfbeeld geknou. “Jy voel lelik en dan het my hare boonop gekroes ook.”

Tarien se gewig het aanhou klim tot sy 17 maande gelede die skaal op 116 kg laat kreun het. Dis toe dat sy besluit het dit is nou genoeg.

[caption id="attachment_119974" align="alignnone" width="600"]Voor en na-foto's van Tharien. Foto's: Verskaf Voor en na-foto's van Tarien Fourie. Foto's: Verskaf[/caption]

Byna ’n jaar en ’n half later is dit moeilik om te glo dit is dieselfde mens wat ons vandag by haar werkplek in Midrand ontmoet. Haar middellyf toon nie ’n gram vet nie. Dié gedaantewisseling het gekom nadat sy in September 2014 bloot haar leefstyl verander het. “Ek was ongemaklik met myself en ongelukkig.”

Ten spyte van haar lenige lyf, raak sy selfbewus toe Huisgenoot se fotograaf haar afneem. In die onderhoud kruis sy haar arms voor haar lyf en later draai sy, amper skaam, haar gesig weg. “Omdat ek nog altyd vet was, sukkel ek steeds met selfvertroue en ek is krities oor myself,” sê sy.

Sy het by Craig Brown, ’n aanlyn voedingsafrigter, aangeklop, wat vir haar ’n eet- en oefenplan uitgewerk het. Craig sê hy glo nie in kitsdiëte nie en werk eetplanne volgens mense se leefstyl en omstandighede uit.

Tarien eet vyf maaltye per dag en weeg al haar kos. Wat sy eet verskil van dag tot dag en haar oefenplan (sy oefen vyf dae per week in die gimnasium) word daarvolgens uitgewerk.

Lees ook: So het SA man 151 kg afgeskud

Elke dag word ’n ander liggaamsdeel geoefen. Haar dieet hou Craig sover moontlik gebalanseerd en sy drink ses liter water per dag.

“Op ’n dag dat ek byvoorbeeld die groot spiergroepe oefen, sal ek hawermout, eier en eierwit eet. Om halfelf eet ek groente en ’n proteïen soos hoender of tuna.” Vir middagete eet sy biefstuk, maalvleis, hoender of vis, met groente. Saam met elke maaltyd eet sy ’n gesonde vet, soos avokadopeer, olyfolie of grondboontjiebotter.

Teen vieruur eet sy byvoorbeeld witrys en pynappel, vir energie vir die oefensessie, en saans eet sy byvoorbeeld quinoa of bruinrys.

Binne twee maande het Tarien die eerste 8 kg afgeskud. Tot nou het sy altesaam 40 kg verloor en sy weeg deesdae 76 kg. Haar liggaamsvet het van 42 persent tot 17 persent gedaal. Haar mikpunt is 14 persent liggaamsvet. Voorheen het haar kleregrootte gewissel van ’n 42 tot 44; deesdae dra sy ’n 36.

[caption id="attachment_119976" align="alignnone" width="600"]Nommerpas! Foto: Dino Codevilla Nommerpas! Foto: Dino Codevilla[/caption]

“Dit is vir my nou so lekker om klere te koop. Ek kan nou baie sexier aantrek.”

Sy wil in April vir die eerste keer aan ’n fiksheidskompetisie deelneem en sy werk hard daaraan.

Lees ook: 5 waarskuwingstekens jy is dalk op die verkeerde dieet

Sy hoop die feit dat sy die gewig net met die regte dieet en oefening afgeskud het, sal ander motiveer. “Ek wil vir mense wys jy kan met die regte kos en oefening gewig verloor. Ek het geen aanvullings gedrink nie. Dit is belangrik om net op die regte tyd die regte kos te eet. Ek is nou baie gelukkiger as voorheen. Enige mens se wil is sterker as die kos wat jy voel jy moet eet. Hoe meer gewig ek afskud, hoe meer gemotiveerd voel ek.”

 WAT IS LEPTIENTEKORT EN -WEERSTAND?

Tanya Alberts, ’n dieetkundige van Johannesburg, sê leptien is ’n belangrike energiereguleerder in die mens se liggaam. Dit word deur vetselle afgeskei en reageer met hipotalmiese leptienreseptore om aptyt te beheer en energiebesteding te verhoog. “Leptienvlakke word verlaag deur te vas en verhoog deur inflammasie.

“As jy op ’n baie minkaloriedieet gaan, kan jou leptienvlakke daal en tot ’n afname in die vetverbrandende meganismes in jou liggaam lei. Een van die funksies van leptien is om jou liggaam teen uithongering te beskerm. Tydens ’n afname van voedselinname (soos diëte) beskou jou liggaam die gebergte liggaamsvet as ’n bate vir oorlewing. Tanya sê ’n leptientekort kom voor wanneer jy ’n laer as normale leptienproduksievlak in die liggaam het.

Lees ook: So kan jy sulke soepel armspiere soos die Hollywoodsterre kan kry

’n Leptientekort en leptienweerstand lei tot simptome soos ’n verhoogde aptyt en verlaagde energieverbruik. Hierdie simptome kan vetsug en ’n insulienweerstandigheid-diabetes tot gevolg hê. Dit kan ook die liggaam se spiermassa laat afneem en ’n effek op die liggaam se immuunfunksie hê.

“Toetse om ’n leptientekort te bepaal is baie duur omdat dit as gevriesde monster na Frankryk gestuur moet word. Dit kan tussen R33 000 en R40 000 beloop,” sê Tanya. Sy sê deur ’n leptientekort met daaglikse onderhuidse leptieninspuitings te behandel, kan ’n positiewe uitwerking op die liggaam hê. Dié soort behandeling is vir die meeste mense nie lewensvatbaar of bekostigbaar nie; daarom is die oplossing vir die herstel van ’n leptientekort of weerstand in vetsug nie noodwendig deur leptieninfusie nie.

Lees ook: Sal suikerbelasting Suid-Afrikaners die vet laat afskud?

Die meer bekostigbare en haalbare roete is om die oorspronklike abnormaliteite wat aanvanklik tot die onsensitiwiteit gelei het, te herstel. Dit sluit in: gewigsverlies, ’n berekende kaloriebeperkte dieet wat die nodige voeding sal verskaf, wat klein maaltye insluit om die insulienweerstandigheid te verminder. Jy kan ook die metaboliese reseptorsensitiwiteit herstel en suiker uitsny.

Volgrane, bone, peulgewasse, vrugte, groente, maer proteïen en suiwelbronne moet by jou dieet ingesluit word en dit is belangrik om ’n fisieke aktiwiteit te beoefen.

Die herstel van ’n leptientekort kan lei tot ’n afname in aptyt, wat weer tot ’n verminderde energie-inname lei.

Dit laat liggaamsvetmassa, oortollige hoeveelhede insulien in die liggaam en hiperlipiedemie (’n buitengewoon hoë konsentrasie vette of lipiede in die bloed) afneem.

Deur die tekort aan te vat, word die plasmahormoon, wat ’n rol speel in metabolisme en energieverbruik, verbeter.

– Jana Smit