Die meeste mense koes of wip van die skrik wanneer hulle eensklaps ’n groot geraas hoor –  of dit nou ’n deur is wat toeklap of ’n padvark wat sy mishoring van ’n motortoeter druk.

’n Harde slag, trouens enige skielike lawaai, hou veel ernstiger gevolge in vir ’n 28-jarige fyngebaksjef van Melbourne, Australië.

Soyla Echeverria kan op die plek inmekaarsak wanneer sy ’n geraas hoor – en dit kan tot 25 keer per dag met haar gebeur.

Sy ly aan ’n seldsame toestand genaamd katapleksie, waar skielike geluide en hewige emosies soos vrees en ontsteltenis of selfs ’n lagbui kan lei tot ’n verlies aan spierbeheer en tydelike verlamming.

In Soyla se geval kan dié simptome tot vyf uur ná so ’n ineenstorting aanhou.

Omdat dit haar uiteraard enige tyd en op enige plek kan oorkom, kan dit lewensgevaarlik wees. Sy het byvoorbeeld al op ’n tremspoor neergeslaan toe ’n polisiesirene skielik naby haar begin loei.

Lees ook: Hoe weet jy of jou kind dalk ’n bril moet dra?

“Ek onthou hoe die polisiemotor verbygekom het. Daar was ’n hengse lawaai, toe val ek op die spore en kan nie roer nie,” het sy vertel.

“Die polisie het dit gelukkig sien gebeur en ek is hospitaal toe geneem, maar die lamheid het vier uur geduur. Ek het nie geweet wat met my gebeur het nie en nie ’n benul gehad hoe om dit te beheer nie.”

By ’n ander geleentheid is sy by haar werk in ’n groot koelkas vasgekeer nadat sy ’n bord hoor val het. ’n Mens kan dus begryp waarom sy vandag heeltyd bang is sy kom iets ernstiger oor: “Ek kan in die middel van ’n straat omkap en deur ’n motor getref word. Enigiets kan gebeur . . .”

Soyla het op 16 begin agterkom iets skort toe harde geluide, byvoorbeeld ’n skielik getoet of ’n glas wat val, haar in haar spore laat neersyg het.

Katapleksie is eers ná drie jaar by haar gediagnoseer. Familie en vriende se aanvanklike onbegrip het seergemaak. Party het gewonder of sy nie bloot aandag soek nie en ander het voorgestel sy moet berading kry. “Ek het belaglik gevoel en self gewonder hoekom ek heeltyd omval – was ek bloot lomp?”

Lees ook: Testikulêre kanker: Wat elke man moet weet

Die korrekte diagnose het gevolg nadat sy aan ’n slaapnavorsingprogram deelgeneem het. Katapleksie is ongeneeslik, maar medisyne kan haar ’n mate van beheer daaroor gee. Deesdae ervaar sy tipies omtrent 10 sulke episodes per dag, pleks van tot 25 soos voorheen.

Maar wanneer sy ’n plek besoek, sal Soyla steeds eers mooi oplet na waar oral sagte plekke is om te land, sou sy omkap. Sy vra ook meestal 'n familielid of vriend wat haar probleem begryp om haar te vergesel wanneer sy êrens heen gaan.

Die konsternasie wat haar toestand soms veroorsaak, laat haar meer verleë voel as enigiets anders.

“Mense skrik hulle lam, raak paniekerig en bel die ambulans. Hulle dink dis ’n hartaanval. Ek wil net ’n vol lewe hê. Die medikasie maak dinge baie beter, maar dit bly ’n groot uitdaging.”

WAT JY MOET WEET VAN KATAPLEKSIE

Volgens die NHS behels katapleksie onder meer skielike, tydelike spierverswakking of verlies van spierbeheer. Simptome sluit in:

? Kop wat kantel.

? Mond wat oopval.

? Bene wat meegee.

? Onduidelike spraak.

? Dubbele visie of fokusprobleme.

Katapleksie-aanvalle kan deur emosie soos skok, woede of opgewondenheid ontketen word.

Die meeste mense met narkolepsie ervaar ook katapleksie, maar dit kom nie ewe gereeld voor nie.

Elaine Golden ly aan narkolepsie. Sy het versoek dat iemand haar afneem terwyl sy ’n katapleksie-aanval beleef terwyl sy op ’n swaai in ’n pretpark ry.

Bronne: dailymail.co.uk, nhs.uk/, thesun.co.uk, ninds.nih.gov, websta.me

Ander stories op Huisgenoot.com:

Kurator van Huisgenoot-uitstalling met Kanna vereer in ons 100ste bestaansjaar

Kyk: Groot opwinding in dié geliefde Pasella-aanbieder se huishouding

Hierdie wakkerweeswenke kan keer dat JY gekaap word

Kyk: Ouma Trys se histeriese kennismaking met Face Swap

Kyk: Bobby van Jaarsveld ontdek Face Swap en die resultaat is skreeusnaaks!