Daar is egter nog tekens wat nie so voor die hand liggend is nie en wat sou kon beteken jou liggaam kort yster. Lees voort sodat jy die ongewone maniere kan uitvind waarop jou liggaam moontlik om ’n bietjie meer yster smeek.

Smagting na klei of grond

Dit is nie net swanger vroue wat daarvan hou om aan ongewone goed, wat niks met kos te make het, te knaag nie -- dié wat yster nodig het, het ook vreemde smagtings.

Veral die behoefte om aan klei, grond en kryt te kou, is ’n aanduiding dat jy moontlik aan bloedarmoede ly. Navorsers is nog nie seker waarom hierdie smagtings voorkom nie, maar die tegniese term hiervoor is pika.

Lyers is in baie gevalle te skaam om die probleem te erken en dus word die siekte nie gediagnoseer nie. Die smagting na roomys kan ook op ’n tekort aan yster dui.

Geswelde tong en gebarste lippe

Indien jou tong geneig is om te swel en dit die kou-, sluk- of praatproses bemoeilik, kan dit een van die maniere wees waarop jou liggaam vir jou sê daar is iets met jou ystervlakke verkeerd.

Die tong kan so erg swel dat die gewone knoppies verdwyn en die oppervlak heeltemal glad is. Dit kan ook kleurloos raak.

Gebarste lippe is ’n ander waarskuwingsteken, hoewel dit moeilik is om te bepaal, aangesien omgewingsfaktore ook barste kan veroorsaak. As jou mondhoeke egter begin kreukel, kan dit ’n seker teken van ysterprobleme wees.

Tintelende en rustelose bene

Rustelosebene-sindroom kan ’n simptoom wees van ’n tekort aan yster, veral ingeval jy gedurig tintelings voel. Dit kan by sommige mense selfs meer as slegs ’n tinteling wees, waar lyers van ’n branderige en trekkerige gevoel kla, of waar dit selfs voel asof goggas binne-in jou bene kriewel.

’n Gevoel van angs

’n Gevoel van angs is ook ’n aaklige newe-effek van ’n ystertekort. Die oorsaak hiervan is ’n tekort aan suurstof in jou liggaam, wat die simpatiese senustelsel versnel. ’n Tekort aan yster kan ook jou hartklop versnel en dit dra tot die probleem by.

Naels wat insak

As jou naels droog en bros is en byna soos lepels lyk soos dit insak, kan dit hoog tyd wees om na jou ystervlakke te kyk. Jou naels vertel jou heelwat oor jou gesondheid, dus behoort jy nie die waarskuwingstekens te ignoreer nie.

© Cover Media