Dis Nuwejaar en jy het ’n klompie goeie voornemens gemaak om 2014 jou beste jaar tot nog toe te maak. Jy is vasbeslote om daarby te hou, maak nie saak of jy 10 kg wil afskud of ’n slegte gewoonte wil laat staan nie. Tog is Nuwejaarsvoornemens dikwels so vergesog en onprakties, dis onmoontlik om daarby te hou.

Dit beteken nie jy kan nie jou lewe ten goede verander nie, sê Judy Klipin, ’n Johannesburgse lewensafrigter. “Dink aan twee of drie probleemgebiede en dink aan ’n klein verandering wat jy in elkeen kan aanbring,” sê sy. “Jy kan byvoorbeeld jou tydsbestuur verbeter deur jou klere saans al uit te sit. Deur elke dag ’n groot bottel water op jou lessenaar te hou, kan jy jou gesondheid verbeter.

“Dis belangrik om realisties en eerlik te wees en haalbare doelwitte te stel,” voeg sy by. “’n Voorneme om te oefen is meer haalbaar as ’n voorneme om elke oggend vyfuur in die gim te wees.”

Hier is ’n paar voorbeelde van eenvoudige, maklike voornemens wat jou lewe kan verbeter:

SOGGENS

Hou by ’n oggendroetine:

Dit help jou suwwe oggendverstand vinnig en doeltreffend basiese take bemeester soos eet, stort en aantrek. Dit sal jou betyds by die werk help kom en keer dat jy iets belangriks vergeet, soos jou kinders se middagete of jou skootrekenaar vir die werk.

Maak ’n lysie:

“Doenlysies is belangrik, aangesien hulle jou ’n gevoel van beheer en prestasie gee,” sê die Johannesburgse lewensafrigter Aviva Baran-Rothschild. Jy kan jou lysie op twee maniere benader. Begin met die vinnige, maklike take. Om hulle af te merk sal jou laat voel jy het iets bereik. Of pak die moeilikste eerste aan sodat jy jou nie heeldag daaroor bekommer nie. Maak seker jou lysie is realisties, waarsku Aviva. “Beskou dit as iets wat jou help en jou lewe makliker maak, pleks van ’n stok waarmee jy jou moet slaan wanneer jy nie by alles daarop uitkom nie. Neem jou voor jy gaan die volgende dag weer probeer. As jy verkies, kan jy jou lysie die vorige aand opstel pleks van soggens.”

BEDAGS

Raak bedrywig:

Om elke dag die gim te besoek is ’n algemene Nuwejaarsvoorneme, maar byna onmoontlik. Dink liewer aan maniere waarop jy oefening by jou daaglikse roetine kan inwerk. Klim trap, stap winkel toe of speel ’n hardloopspeletjie met jou kinders.

Pak jou werkplek reg

’n Mens kan maklik moedeloos en oorweldig voel wanneer jou lessenaar kreun onder hope dokumente. Vir helderheid en beter fokus, hou jou lessenaar skoon en pak dit minstens een keer per week reg, sê Aviva.

Haal diep asem:

Neem ses diep asemteue voor jy reageer wanneer jou baas raas of jou kind onhebbelik is. Doen dit ook wanneer jy angstig, hartseer, onseker of gespanne voel, is Aviva se raad. “Jy sal kalmer voel en helderder dink. Jy sal minder geneig wees om impulsief op te tree en jou optrede te berou.”

Een ding op ’n slag:

Moenie ’n klomp goed tegelyk doen nie, sê James Dhlamini van BTG Coaching in Kempton Park.  Konsentreer liewer op een taak en doen dit behoorlik. “Dit verg baie energie om terselfdertyd op twee plekke te wil wees,” sê hy. “Bespaar energie deur een ding op ’n slag te doen.”

SAANS

Maak tyd vir jouself:

Sommige mense dink dis onmoontlik. Wanneer jy ná werk by die huis kom, wag jou tweede skof, want dan begin jy huiswerk doen en jou kinders versorg. Tog is dit belangrik om tyd opsy te sit net vir jouself. “As jy dit nie doen nie, kan jy geïrriteerd en wrewelrig raak, onvolkome voel en eindelik uitbrand,” sê Aviva. Onthou, jy hoef nie alles self te doen nie. Bepaal wat regtig gedoen moet word, besluit waarvoor jy kan nee sê en vra gesinslede moet help, sê Judy.  Wat jy met jou eietyd doen, hang van jou af, maar om voor die televisie neer te val tel nie. “Ontspanning is ’n baie belangrike deel van die daaglikse lewe,” sê Veronique Breugelmans, ’n lewensafrigter van Johannesburg. “Dit gaan daaroor om iets te doen wat invloed op jou lewe het. Daarom tel voor die televisie lê nie.” Lees ’n boek, kry ’n stokperdjie, mediteer of oefen. Kinders en tieners het ook eietyd nodig. “Om tyd te bereken vir huiswerk en skooltake is net so belangrik soos om tyd te maak vir ontspan en pret hê,” sê Judy.

Sit jou klere uit:

Kyk na môre se weervoorspelling, besluit wat jy wil dra en sit jou klere uit. Dit sal soggens tyd bespaar wanneer jy nog slaperig is en nie kan besluit wat om aan te trek nie. As jy soggens oefen, pak jou oefensak die aand tevore. Jy sal dan meer geneig wees om by jou oefening uit te kom.

Los die kantoorwerk:

Los jou werk op kantoor. “Jy hoef nie buite werkure e-posse te beantwoord nie en ook nie jou selfoon op te tel elke keer dat dit lui of biep nie,” sê Veronique. “Dit maak jou nie ’n beter mens as jy dag en nag beskikbaar is nie. Leer nee sê sonder dat jy jok of verskonings uitdink.”

Skakel af:

Skakel jou slimfoon af wanneer jy saam met jou gesin aan tafel sit of saam met vriende uiteet. Dit sal jou help konsentreer op sosiale interaksie in die ware lewe, en verhoed dat jou aandag afgelei word deur boodskappe, oproepe en sosiale netwerke.

Dink na:

Ruim ’n paar minute in en dink na oor die dag. Het jy alles gedoen wat jy wou? Indien wel, wees trots op jouself. “Dis ook belangrik om te verstaan waarom ons nie iets gedoen het wat ons wou nie,” sê Judy. “Was dit dalk nie werklik belangrik vir ons nie? Is ons dalk moeg? Of dalk te besig? As jy weet waarom jy dit nie gedoen het nie, kan jy die nodige verandering aanbring.”

Skryf jou probleme neer:

Wanneer jou probleme jou oorweldig, maak ’n lysie daarvan. “’n Probleem wat genoem is, is ’n probleem wat byna opgelos is,” sê Veronique. “Probleme kom dikwels soveel erger voor as wat hulle eintlik is. Wanneer jy hulle neerskryf, word hulle in perspektief geplaas en lyk dikwels hanteerbaarder.”

Vergewe jouself en andere:

As jy ’n fout by die werk gemaak het, jou humeur met ’n vriend verloor het of iets gedoen het waarop jy nie trots is nie, is dit belangrik om jouself te vergewe en uit die ervaring te leer. “Leer jouself vergewe wanneer jy foute maak en leer ook ander vergewe,” sê Vernonique.  “Om vas te hou aan woede, bitterheid en berou is soos om suur in jou hande vas te hou: Jy maak net jouself seer.” Leer uit jou foute en optrede en probeer dit nie herhaal nie.

Petro-Anne Vlok

EKSTRA BRONNE: openforum.com, huffingtonpost.com