Volgens statistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die getal kapings die afgelope twee jaar toegeneem; volgens die syfers van 2012/’13 word 28 motors daagliks gekaap. Die meeste voorvalle het saans tussen vyfuur en agtuur in die slagoffer se eie oprit gebeur.

Wat kan jy doen om jou hierteen te beskerm? Die versekeraars First for Women gee die volgende wenke:

  • Wees bewus daarvan dat kapers hulle dikwels as polisiebeamptes voordoen en jou dwing om af te trek. As jy nie veilig voel om jou motor van die pad te trek nie, kan jy na die naaste polisiekantoor ry en daar gaan stilhou.
  • Kapers sal ook liggies teen jou motor bots en jou so dwing om stil te hou. Soos bo genoem, moet jy liewer na die naaste polisiekantoor ry as jy agterdogtig is oor die ander motor.
  • Onthou, jy is op jou weerloosste wanneer jy by jou motor in- en uitklim. Moet liefs nie jou motor in jou oprit laat staan en luier nie. Maak ook seker jy vertoef nie te lank wanneer jy by die oprit aankom of dit verlaat nie.
  • Stap met selfvertroue na jou motor. Hou jou sleutel gereed maar uit die oog. Sluit dit net oop sodra jy naby is; moet ook nie terwyl jy loop op die telefoon gesels nie.
  • Kyk of daar iets of iemand op die agtersitplek is, al het jy dit gesluit.
  • ’n Motor wat goed onderhou word, is minder geneig om onklaar te raak; hou dus jou motor in ’n goeie toestand. As dit wel onklaar raak, hou stil, skakel jou gevaarligte aan en ontbied hulp.
  • Beplan jou roete, hou ’n navigasietoestel aangeskakel en laat weet iemand van jou roete en hoe laat jy verwag om by jou bestemming aan te kom.
  • Kyk altyd in jou truspieël of iemand jou agtervolg. Ry tot by die naaste polisiekantoor of besige openbare plek as jy vermoed dat dit die geval is.
  • Moenie met oop vensters ry nie en sluit altyd jou deure. Installeer breek-en-gryp-vernsterfilm vir ekstra beskerming as jy kan.
  • Vermy afleidings wanneer jy bestuur. Moenie jou foon gebruik terwyl jy bestuur nie.
  • Ry stadiger wanneer jy ’n rooi verkeerslig nader sodat dit na groen oorslaan voor jy dit bereik.
  • Maak seker jou oprit is goed belig en dat daar nie struike weerskante is nie.
  • As jou hek met ’n sensor werk, moet jy dit liewer met jou afstandbeheerder toemaak, pleks dat jy wag dat dit outomaties toegaan. Dit verminder die kans dat iemand ná jou kan insluip.
  • Parkeer altyd op ’n sentrale, goed beligte plek, verkieslik waar daar veiligheidswagte aan diens is.
  • Laat altyd ’n paar meter speling tussen jou en die motor voor jou toe wanneer jy stilhou sodat jy tydens ’n aanval kan wegkom.
  • Verander jou roete en rooster gereeld, as jy kan.
  • Maak jou aankoms by jou bestemming veiliger deur vooruit te bel en te vra iemand moet die hek vir jou oopmaak. Jy kan ook jou veiligheidsmaatskappy bel en vra hulle moet naby jou huis op jou wag.