Onlangse navorsing het bevind vroue wat die voorbehoedpil gebruik, kan hul risiko om kanker van die baarmoeder, ingewande en eierstokke te kry, drasties verlaag – tot 30 jaar nadat hulle dit begin gebruik het.

Deskundiges aan die Universiteit van Aberdeen het bevind die kans dat vroue wat die medikasie gedurende hul vrugbare jare neem, die siektes opdoen, is aansienlik skraler as dié van vroue wat dit nooit gebruik nie. Hulle het ook bevind die Pil lei nie tot ’n risiko vir ander soorte kanker in later jare nie.

Dr. Lisa Iversen en haar span het 46 000 Britse vroue oor ’n tydperk van 44 jaar bestudeer, wat dit die langste eksperiment in sy soort maak, en hulle het tot die slotsom gekom die beskermende voordele van die Pil duur tot 35 jaar nadat die dames opgehou het om dit te drink.

Die vroue het die Pil in hul 20’s en 30’s gemiddeld drie en ’n half jaar gebruik, maar dit het hul kanse verbeter om kanker dekades later af te weer, wanneer hul risiko vergroot om dit te kry. Die waarskynlikheid van eierstok- of baarmoederkanker was een derde laer, en die waarskynlikheid van kanker van die ingewande een vyfde laer.

Hoewel vroue gewaarsku is dat die voorbehoedpil verband hou met ’n hoër risiko vir kanker in die baarmoedernek en borste, het die navorsers daarop gewys dat hierdie gevare heeltemal ophou vyf jaar nadat hulle gebruik van die Pil staak.

Wanneer menopouse hulle tref en die bedreiging van kanker verhoog, is die waarskynlikheid van ’n ander vorm van die siekte ook nie groter nie.

“Omdat die studie so lank geduur het, kon ons enige moontlike uitwerking van die Pil op die baie lang termyn ondersoek,“ het Lisa gesê.

“Nadat ons 44 jaar se data bestudeer het, het ons bevind vroue wat in die een of ander stadium van hul lewe die Pil gedrink het, het ’n skraler kans gehad om kolorektale, endometriale en eierstokkanker te kry. Die beskermende voordele van die Pil gedurende die voortplantingsjare hou minstens 30 jaar nadat die vroue opgehou het om dit te gebruik.”

Die studie, befonds deur liggame soos die Mediese Navorsingsraad, Imperial-Kankernavorsingsfonds en Britse Hartstigting, is in die American Journal of Obstetrics and Gynecology gepubliseer.

© Cover Media